Misdadigers saai verwoesting, besteel historiese kerk
Koperdiefatal is ʼn ernstige probleem ook in Parys en word selfs kerke nie gespaar nie.

Parys se historiese Anglikaanse kerk in Dolfstraat, reg oor die dorp se poskantoor het die afgelope week die teiken van gewetenlose misdadigers geword.
Tydens ʼn inbraak by die kerk is ongekende skade veroorsaak toe krane gesteel, drade uit die mure geruk, koperware en ʼn TV gesteel is, en selfs die kerkorrel beskadig is. Die diewe het ʼn pad van verwoesting in die kerk self, die kantoor en kombuis agtergelaat. Die skuldige is nog soek.



Koperdiefstal is al n geruime tyd ʼn ernstige probleem in die dorp met krane en watermeters wat gesteel word, en is selfs by die Gemeenskap Polisiëring Forum gewaarsku oor koperkomponente in lugverkoelers wat geteiken word.
Die kerk is in 1915 gebou met blou graniet afkomstig van ʼn vlugtelingskamp wat by die destydse Feesgronde buite Parys tydens die Anglo Boereoorlog gevestig was.
Die Anglikaanse Kerk is ook nie die enigste kerk wat al deurgeloop het nie. In ʼn soortgelyke voorval in 2024 het die NG Kerk in Schonkenville twee keer in een week deurgeloop onder dié plunderaars en is selfs die kerkklok gesteel.

Selfs die NG gemeente Schonkenville se koperkerkklok is in die verlede deur inbrekers gesteel. Foto: Parys Gazette
Net soos die Anglikaanse Kerk is die Schonkenville gemeente se waterpype ook gesteel, elektriese bedrading uitgeruk en die toilette beskadig.

Die rowers het destyds selfs die NG gemeente Schonkenville se badkamers beskadig. Foto: Parys Gazette
“Die diefstal van die kerkklok is nie dadelik agtergekom nie, want ons lui die klok nie op Sondae nie, net wanneer ’n lidmaat sterf om ons gemeente in kennis te stel,” het ds. Pierre Guillaume van die Schonkenville gemeente destyds aan Gazette gesê
In die Schonkenville gemeente se geval is by die badkamervensters en deur die plafonne toegang gekry. Al die elektriese bedrading op die plafon en ander elektriese drade in die kerk is toe ook gesteel, sowel as die koperdele van die vensters.
- Die Anglikaanse kerk se predikant kon nie met die skryf van hierdie berig vir kommentaar bereik word nie maar sal kommentaar bygevoeg word sodra dit ontvang word.



