Local newsNews

Verskerpte wetstoepassing op Gautengse paaie werp vrugte af

Naas verskeie boetes wat uitgeskryf is, is ook op voertuie beslag gelê wat nie padwaardig was nie, en arrestasies gemaak vir onder meer die bestuur onder die invloed van drank, en roekelose en nalatige bestuur.

Die Gautengse Vervoerinspektoraat (GTI) se hoë-impak stop-en-deursoek-operasies gaan voort en lewer steeds positiewe resultate in die stryd teen wetteloosheid en verkeersoortredings op die provinsie se paaie.

Volgens die departement vorm dié operasies deel van ’n breër strategie om padveiligheid te bevorder, misdaad te bekamp en wetstoepassing in die openbare vervoersektor te versterk.

Tussen 13 en 19 Oktober is verskeie  gesamentlike optredes in alle vervoerkorridors van die provinsie uitgevoer. Talle boetes is uitgereik aan openbare vervoeroperateurs wat nie aan regulasies voldoen het nie, terwyl verskeie voertuie as onpadwaardig verklaar en arrestasies vir ernstige verkeersmisdrywe uitgevoer is.

In totaal is meer as 800 geskrewe boete uitgereik, en nog 1 275 boetes is elektronies verwerk.

Die operasies het verder daartoe gelei dat 113 voertuie kennisgewings weens nie-nakoming van veiligheidsregulasies uitgereik is, en 21 minibustaxi’s is weens ernstige oortredings op beslag gelê.

’n Ontstellende aantal gevalle van onwettige bedrywighede is ook aangeteken: 238 minibustaxi-bestuurders was sonder geldige bestuurslisensies, 114 voertuie het nie lisensieskyfies gehad nie, en 72 minibustaxi’s is gestaak weens nie-nakoming van veiligheidsvereistes.

Tydens die weeklange optrede is twee motoriste in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol, en een bestuurder is gearresteer vir roekelose en nalatige bestuur.

Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die GTI geloof vir hul volgehoue sigbaarheid en toegewyde wetstoepassing.

“Hierdie resultate wys duidelik dat die verskerpte wetstoepassing ’n tasbare impak het op die herstel van orde en verantwoordelikheid op ons paaie,” het Diale-Tlabela gesê. “Ons kan nie toelaat dat roekelose gedrag en wetteloosheid die lewens van pendelaars en ander padgebruikers in gevaar stel nie.”

Met ’n toegewyde span van 96 beamptes bly die GTI vasbeslote om padveiligheid te verbeter, onwettige bedrywighede hok te slaan en die oppergesag van die reg in Gauteng te handhaaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button