Koos se hardloop-droom by straatmyl bewaarheid
Onthou jy kan ook nog Saterdag vanaf 06:00 by die Straatmyl inskryf om deel te neem.
Nie in sy verslete tekkies met die stukkende sole nie, maar in splinternuwe tekkies in die klubdrag van Parys Multisport, sal Koos Letsoba Saterdag saam met honderde ander atlete wegspring by vanjaar se Parys Crater Streetmile.
Dit danksy Parys Rotary, Parys Multisport, Keith Ward en hulle wie se harte oop was vir die man van Vredefort se hardloop-droom.
Hardloop is die taal wat Koos se voete ken. Met verslete tekkiesole het jy hom elke oggend 06:00 op die pad gekry waar hy die 28km hardloop na die plaas van Pieter en Erna Rademan in die Vredefort-distrik waar hy werk.
Hoewel hy op skool in verskeie sportsoorte uitgeblink het, was daar nie geld en geleenthede vir die jong seun wat in ‘n weeshuis in Lenasia grootgeword het, om sy talente te kon ontwikkel nie.
Maar sedert ‘n berig oor Koos se hardloop-droom in die Gazette verskyn het, het baie vir die pa van twee verander, wie se voete hul ritme op die pad ken.
Nie net het hy nou twee pare tekkies en atletiekdrag nie, maar is hy ook danksy die goedheid van ‘n gemeenskap ‘n ingeskrewe lid van Parys Multisport en is ook sy registrasiegelde by Atletiek Suid-Afrika betaal.

Hy sal Saterdag aan die Meesters-kategorie van die gewilde straatmyl deelneem wat vanjaar vir die derde jaar agtereenvolgens deur Rotary Parys in samewerking met Parys Info en onder die vaandel van Parys Multisport aangebied word.
Groot prysgeld by vanjaar se straatmyl
Prysgeld van meer as R65 000 is op die spel by vanjaar se straatmyl. Dit sluit ook prysgeld in vir rekords wat in die Elite-klasse verbeter word.
Bekende name in atletiekkringe, nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal, word weer vanjaar by die straatmyl verwag.
Die roete
Die roete van 1 609.4m, die presiese afstand van ‘n myl, is gesertifiseer volgens Wêreld Atletiek, Atletiek SA en Atletiek Vrystaat regulasies, wat beteken dat deelnemende atlete met die straatmyl kan kwalifiseer vir provinsiale, nasionale en internasionale erkenning.
Die straatmyl het in 2024 geskiedenis gemaak toe dit SA se eerste Wêreld Geregistreerde Myl geword het en word die straatmyl ook op die wêreld atletiekkalender aangedui.
Atlete spring weg en eindig in Waterstraat by die Spur-ingang van die PnP-sentrum. Die draaipunt van die roete is by Plum Tree Restaurant in Breëstraat. Halfmyl deelnemers (sewe tot nege jaar) spring ook weg in Waterstraat by die Spur-ingang van die PnP-sentrum, maar draai dan by die 400m merk. Nollie Meiring sal om 07:15 die afsitterspistool laat klap vir die eerste wedloop, met die laaste wedloop om 09:45. Die hoogtepunt is die Elite mans en dames klasse vanaf 09:30.


Inskrywings:
- Atlete kan vooraf aanlyn inskryf,
- of by Parys Info,
- * of die oggend van die straatmyl vanaf 06:00.
- Maak nie saak hoe vinnig jou pas – daar is plek vir jou.
Navrae:
Navrae oor die straatmyl kan gerig word aan info@paryscraterstreetmile.co.za of besoek die webtuiste www.paryscraterstreetmile.co.za. Jy kan ook Sandra Uys skakel by 064 516 0238, of Chantal Grobler by 076 430 1138.



