Ngwathe-ingryping: Hof wag steeds op verslag oor vordering
Drastiese ingryping is ook die week gesien by Ngwathe met die uitbreiding van die administrateurspan.
Die burgerregte organisasie AfriForum se regsverteenwoordiger, Hurter Spies Ingelyf, eis dat die Vrystaatse regering teen 16 Oktober ‘n vorderingserslag oor ingryping van die provinsie by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sal indien. Volgens AfriForum het meer as drie maande verloop sonder dat die vereiste verslag by die hof ingedien is.
Regter J.P. Daffue se waterskeidingsbevel op 20 Junie 2025 in die Vrystaatse Hoë Hof in die guns van AfriForum, het nie net onmiddellike ingryping van die Vrystaatse provinsiale regering by die munisipaliteit vereis nie, maar ook beveel dat die Ngwathe Raad moes ontbind en dat die Vrystaatse premier en uitvoerende raad, asook die provinsie se LUR vir COGTA (Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake), LUR vir Finansies en die LUR vir Ekonomiese, Kleinsake Ontwikkeling, Toerisme en Ekonomiese Sake, elke drie maande aan die hof verslag moet doen oor vordering met die implementering van die bevel, en herstelproses in Ngwathe.
Die munisipaliteit het aanvanklik teen die uitspraak geappèlleer, wat die implementering van die hofbevel maande lank vertraag het. Die konstitusionele hof het egter op 2 Junie finaal die munisipaliteit se appèlaansoek van die hand gewys, waarna die oorspronklike hofbevel in werking getree het.
AfriForum se regsverteenwoordigers meen dat die versuim om verslag oor vordering te doen neerkom op minagting van die hofbevel, en die hof se toesig oor die herstelproses belemmer.
Die uitstaande verslag moet onder eed ingedien word en onder meer die herstelplan, die ontbinding van die munisipale raad, die aanstelling van ’n administrateur en die begroting- of ander maatreëls om die herstelplan uit te voer, aanspreek.
Dit moet ook aandui wat die vooruitsigte is dat Ngwathe weer sy eie munisipale funksies sal kan verrig.
In die prokureurskrywe wat Vrydag 2 Oktober aan die staatsadvokaat oorhandig is, sê AfrriForum dat indien die verslag nie teen die sperdatum ontvang word nie, AfriForum die hof sal nader vir toepaslike regshulp.
Die organisasie beklemtoon dat die geleentheid om die reeds agterstallige verslag in te dien nie die bestaande hofbevel wysig of die versuim om daaraan te voldoen, kwytskeld nie.
AfriForum se eis volg na ingrypende optrede die afgelope week by die Ngwathe Munisipaliteit toe die Vrystaatse LUR vir COGTA, Saki Mokoena, Ngwathe se admistrateur, dr. Solly Motingoe, wat in Junie aangestel is, se hand gesterk het ingevolge Artikel 139 van die Grondwet en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, met die aanstelling van ‘n administrateurspan.
Volgens COGTA was die doel van die ingryping om die voortslepende administratiewe wanfunksionering aan te spreek deur die munisipale raadstrukture te versterk en bestuursknelpunte uit die weg te ruim, sodat die munisipaliteit sy verpligtinge teenoor die Ngwathe-gemeenskap kan nakom.

Die administrateurspan word nou gelei deur advokaat Thupa, met dr. Masithela as assistent-administrateur, wat dr. Motingoe sal bystaan.
“Die span beskik oor uitgebreide ervaring op verskeie vlakke van bestuur,” het Mokoena gesê.
Kritieke vrae is Woensdag aan die senior administrasiespan gestel. “Hierdie vrae spruit uit kommer uit die Ngwathe-gemeenskap en moet deur die administrasiespan oorweeg word in hul strategie,” het Mokoena gesê.
Mokoena het ook Ngwathe se munisipale raad in Junie met onmiddellike effek ontbind, toe hy Motingoe as administrateur aangestel het.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, het Woensdag gesê die organisasie is diep bekommerd oor die vordering met die ingrypingsproses by Ngwathe. Volgens Pretorius is daar nog geen sigbare verbetering nie,
Die DA se burgemeesterskandidaat, Carina Serfontein, het gesê die party neem kennis van die aangekondigde taakspan, maar dat nóg ’n aankondiging drie maande ná die ontbinding van die raad nie ’n oplossing vir Ngwathe se diensleweringskrisis bied nie.
“Inwoners verdien aksie, nie nóg beloftes nie. Ons eis onmiddellike uitvoering, vaste sperdatums en meetbare resultate, en sal die taakspan en provinsiale regering verantwoordbaar hou,” het Serfontein gesê.
Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus LP en een van die party se ondervoorsitters in die provinsie, het in haar reaksie gesê dié jongste verwikkelinge kom slegs 35 dae voor die plaaslike regeringsverkiesing. Breedt het gesê indien die ANC werklik oor Ngwathe besorg was, sou die span reeds vroeër aangestel gewees het.




