Local newsNews
Die afvuur van ‘n vuurwapen en noodweer: Waarna kyk die hof
Hoewel daar nie Suid-Afrikaanse wetgewing is wat spesifiek handel met noodweer nie, is howe baie duidelik oor die elemente waarna gekyk word wanneer noodweer ter sprake kom.
Kommer oor misdaad in Suid-Afrika laat dikwels vrae by vuurwapeneienaars oor die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n misdaadsituasie, en optrede uit noodweer. Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum, het aan die hand van verskeie scenarios verduidelik watter elemente deur howe in ag geneem word.
Hoewel wetgewing nie spesifiek handel met noodweer nie, is die begrip omvattend, het Kamfer gesê.

Hy het verduidelik dat noodweer slegs gemotiveer word in gevalle waar:
- ‘n Aanval wederregtelik is.
- Onmiddellik dreigend is op jou of jou geliefdes se lewens. Die blote teenwoordigheid van ‘n verdagte in jou huis of erf is nie gronde vir optrede uit noodweer nie tensy daar ‘n wesenlike en onmiddellike bedreiging van lewe is.
- Die bedreiging gerig is teen ‘n belang wat die reg as beskermingswaardig beskou.
- Die aanval nie afgeloop is nie, byvoorbeeld met verdagtes wat reeds op die vlug is.
- Die afweerhandeling moet teen die aanvaller gerig wees.
- Daar moet ‘n redelike verhouding wees tussen die aanval en afweerhandeling.
- Die afweerhandeling noodsaaklik is om bedreigde reg te beskerm.
- Kamfer was duidelik daaroor dat wetgewing die afvuur van waarskuwingskote in beboude gebied verbied.
Sou dit gebeur dat jy iemand uit noodweer in ‘n misdaadsituasie geskiet het, is dit belangrik om die volgende te onthou, was Kamfer se raad:
- Maak seker dat jy en jou gesin of ander onskuldige partye veilig is.
- Moenie die toneel verlaat nie, mits dit ‘n aktiewe toneel is met ‘n wesenlike gevaar wat jou lewe bedreig, byvoorbeeld verdagtes wat steeds op die toneel is.
- Aktiveer sover moontlik dadelik jou sekuriteitsmaatskappy se paniekknoppie, stel jou plaaslike buurtwag in kennis wat kan help om nodige rolspelers dadelik op die toneel te kry, en probeer sonder versuim die polisie skakel.
- Skakel jou prokureur en stel hom/haar in kennis van wat gebeur het.
- Moet niemand behalwe die polisie of noodreaksiedienste op die toneel toelaat nie.
- Neem self ook foto’s van die toneel en stoor dit.
- Moenie met jou vuurwapen in jou hand rondloop nie. Beveilig jou vuurwapen en maak seker dat dit veilig gebêre is, byvoorbeeld in ‘n kluis.
- Omdat mense dikwels ooremosioneel op ‘n toneel is, het Kamfer verduidelik dat daar nie ‘n verpligting is om dadelik ‘n verklaring af te lê nie, hoewel dit spoedig gedoen moet word.
- Dit is waarskynlik dat die polisie op die vuurwapen wat gebruik is beslag sal lê, en selfs ook op jou ander vuurwapens en ammunisie. Jy sal bewys ontvang van die vuurwapens en ammunisie waarop beslag gelê is.
- ‘n Dosier sal saamgestel word uit die feite wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het.
- Kamfer het gewys op die nodigheid van ontlading na trauma byvoorbeeld met berading nie net vir jouself nie, maar ook jou gesin of andere wat op die toneel was.
- Sy raad was ook om jou volle samewerking te gee vir wetstoepassers wat die ondersoek hanteer.
Mense wat vrae het is welkom om 086 1020 030 te skakel, of stuur ‘n e-pos na Help@afriforum.co.za
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



