'n Skermgreep uit Tanya van Rooyen se video van die tornado wat verlede Maandag buite Heilbron gesien is. Foto erkenning: Tanya van Rooyen
Die tornado wat gister net buite Heilbron in die Vrystaat gesien is, is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens as ’n EF0-tornado geklassifiseer – die swakste kategorie op die Versterkte Fujita-skaal, met geraamde windsnelhede van 105–137 km/h.
‘n Video van die tornado, geneem deur Tanya van Rooyen, en geplaas op Storm SA, het sedert gistermiddag soos ‘n storm op sosiale media versprei.
Min het Tanya egter kon dink dat haar vinnige stop op ‘n plaaspad gistermiddag om 15:00 om foto’s te neem van die stormwolke wat dreigend in die lug gehang het, soveel reaksie sou ontlok. Sy het die video 15km buite Heilbron naby Vegkop geneem toe sy op pad was huis toe.
“Ek het die punt sien vorm, maar nie gedink dit is wat gaan gebeur nie. Al wat ek kon hoor was sterk wind en swaar donderweer. Die donderweer het onophoudelik geblits,” het sy Maandagaand aan Parys Gazette vertel.
‘n Skermgreep uit Tanya van Rooyen se video van die tornado wat sy Maandagmiddag buite Heilbron geneem het. Foto erkenning: Tanya van Rooyen
“Ek het slegs ‘n paar sekondes afgeneem voordat die storm bo-oor ons is en ek nie meer kon sien waar hy gaan nie,” het Tanya gesê.
Die treffende foto van die stormagtige wolke is deur Tanya van Rooyen geneem.
Tanya kon ook sien hoe ‘n paar sinkplate deur die tornado in die veld opgetel en rondgewaai is. “Dit was die eerste keer wat ons so iets hier beleef het,” het sy aan Gazette vertel.
Daar is intussen vasgestel dat geen noemanswaardige skade deur die tornado aangerig is nie,
Ongeveer 40mm reën is in totaal Sondagaand en vandag in die Heilbron-distrik gemeet, nadat swaar reën ook velede week in Heilbron geval het.
Lehlohonolo Thobela, meteoroloog by die Suid-Afrikaanse Weerdiens het by navraag van Gazette bevestig dat die donderstorms in die gebied teen die middaguur in felheid toegeneem het. Daar is bygevoeg dat ’n waarskuwing vir ’n swaar donderstorm uitgereik is. Volgens Thobela het rukwinde in die streek, gekombineer met windskuinsheid, konvergensie en voldoende vog, gelei tot die vorming van konvektiewe wolke wat later in ‘n supersel ontwikkel het.. “Die toestande was gunstig vir die vorming van ’n tornado.”
Dit blyk dat die tornado oor ’n oop veld voorgekom het, met min tot geen skade nie.
Thobela sê tornado’s soos wat gistermiddag by Heilbron gesien is, veroorsaak gewoonlik geringe skade, soos gebreekte takke, bome met vlak wortels wat omgestoot word en ligte dakskade. “Hoewel EF0-tornado’s relatief swak is, bly dit gevaarlike weerstoestande, en die publiek word gemaan om altyd versigtig te wees tydens swaar donderstorms,” het Thobela gewaarsku.
Tornado’s in Suid-Afrika
Gister se tornado volg kort op die hakke van ’n tornado in Harrismith, ook in die Vrystaat, op 6 November. Dit het die vraag laat ontstaan of die provinsie geneig is tot tornado’s. Thobela het gesê navorsing toon dat tipiese toestande wat bevorderlik is vir tornadiese en swaar konvektiewe aktiwiteit – naamlik vogtige, samevloeiende lug, laevlak-skuinsheid en onstabiele omgewings wat met koeler stelsels bots – dikwels in dele van Suid-Afrika voorkom. Hy wys daarop dat historiese en kontemporêre ontledings toon dat baie van Suid-Afrika se tornado’s, en selfs ’n soort ‘tornadogordel’, in die Hoëveldstreke en oostelike provinsies voorkom, insluitend Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en KZN.
Hy het bygevoeg dat historiese gebeurtenisontledings ook ’n seisoenale spits vir tornado’s aandui gedurende die midsomer maande (November–Maart). “Belangrik om te onthou is dat tornado’s nie streng tot die somermaande beperk is nie. “Daar is gedokumenteerde voorvalle in die lente (September–Oktober) en laat somer.”
Thobela sê dit ondersteun die idee dat warm, vogtige omgewings met verkoelde stelsels as sneller ’n belangrike aanduiding is van tornado’s wat gedurende hierdie tyd van die jaar kan voorkom.
Supersel-tornadovorming
Thobela het genoem dat navorsing oor ’n noemenswaardige tornadiese supersel op 11 Desember 2017 (op die Hoëveld) bevind het dat die toestande gedryf is deur sterk vog in die laer vlakke en beduidende vertikale windskuiwing in die grenslaag — presies die bestanddele wat ook in hierdie geval waargeneem is.
Hy het gesê ’n onlangse relevante studie (Liesker, Dyson & Becker) het bevind dat hierdie superselle die algemeenste in Oktober tot November voorkom, wat vroeg in die konvektiewe seisoen is (lente tot vroeë somer). “Hul voorkeurspore se gemiddelde leeftyd is ongeveer ’n uur en 12 minute, met ’n horisontale snelheid van 41 km/h en ’n afstand van sowat 49 km, wat oor die algemeen uit die suidweste beweeg en meer suidwaarts verskuif soos die seisoen vorder.”
Daar blyk ook dat topografie ‘n invloed het – veral in oostelike Mpumalanga en Hoëveldgebiede.
Nog reën kom
Ná swaar reën wat reeds oor die naweek in die Vrystaat geval het, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku dat nog donderstorms vir die res van die week verwag kan word wat tot oorstromings kan lei. Daar is ook gewaarsku teen hael en winderige toestande.
In droeër dele van die provinsie is gewaarsku dat wind kan lei tot die ontstaan van wegholveldbrande.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.