Local newsNews

Bejaarde boervrou aangeval en byna ‘n dag in kattebak toegesluit

Vrystaat Landbou het sy oproep aan die regering herhaal om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer

‘n 72-Jarige vrou wat alleen in die Bultfontein-omgewing boer, is Vrydagaand  in haar huis oorrompel en wreed aangerand, waarna sy vir ure deur haar aanvaller in haar eie motor se kattebak toegesluit is. Sy is uiteindelik in die toegesluite kattebak langs die pad gelos toe die motor waarmee haar aanvaller in die rigting van Bloemfontein gevlug het, naby Soutpan onklaar geraak het.

Die aanval op die bejaarde vrou was reeds Vrydagaand rondom 18:00, maar is sy eers die Saterdagmiddag, bykans ’n volle dag later deur ‘n polisiebeampte in die verlate voertuig se kattebak gekry.

Die polisiebeampte van Bultfontein wat nie aan diens was nie, het die voertuig  Saterdagoggend om 07:45 opgemerk, maar het met sy terugkeer later die middag om 17:15 onraad vermoed toe die motor steeds langs die pad gestaan het, en gaan ondersoek ingestel.

Toe die vrou die voetstappe by die motor hoor het sy om hulp geroep en is sy uiteindelik bevry — uitgeput, gedehidreer en getraumatiseerd.

In ’n tweede voorval oor die naweek is ’n 56-jarige boer van die Clocolan-omgewing Sondagmiddag omstreeks 18:00 in sy plaashuis deur drie aanvallers oorrompel en ernstig aangerand.

Een van die aanvallers wou die boer glo skiet, maar is deur die ander gekeer. Die boer is toe herhaaldelik met messe gesteek.

Sy aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug.

Die boer kon daarin slaag om hom los te wikkel en het na die werkers se huise beweeg waar hulle hom gehelp het om hulp te kry.

Vrystaat Landbou (VL) het sy skok oor die aanvalle uitgespreek en die polisie bedank vir hul vinnige optrede in beide gevalle.

Plaasaanvalle in 2025

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko analis van VL, het was daar gedurende 2025 in totaal 27 plaasaanvalle en sewe moorde in die Vrystaat.

In die 7 plaasmoord insidente was daar in een geval ‘n boer, ‘n besoeker en in vyf insidente werkers op plase vermoor.  In vyf van die insidente is arrestasies uitgevoer.

In Desember alleen is ses plaasaanval insidente in die Vrystaat gerapporteer.

In die 27 plaasaanvalle was 12 boere en in sekere gevalle hul vrouens, 12 plaaswerkers wat
veiligheidswagte en veewagters insluit, aangeval. Daar was verder drie insidente waar besoekers en of bewoners op plase ook geteiken was in plaasaanvalle.

In 11 insidente was daar arrestasies uitgevoer.

In ses dorpe was daar twee tot vier plaasaanval/moord insidente, naamlik Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener.

Beroep op boere om betrokke te wees

“Ons doen weereens ’n dringende beroep op alle boere, oud en jonk, om aktief deel te vorm van hul plaaslike veiligheidstrukture, insluitend plaaswagte, radiosisteme en veiligheidsinisiatiewe.

Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie. Samewerking en waaksaamheid is tans ons
enigste skild teen hierdie gruwel” sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko analis van Vrystaat Landbou.

Vrystaat Landbou het ook sy oproep aan die owerhede herhaal om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer en om seker te maak dat dit nodige hulprbonne, mannekrag en aksies soos deur die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS) gerugsteun word, daargestel word.

Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere, hul gesinne en werkers op plase kan nie langer as onderhandelbaar beskou word nie, het die organisasie gesê.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button