VL en ander landbou rolspelers neem regsstappe oor BKS-entstowwe
Vrystaat Landbou sê die situasie is so kritiek dat ’n beduidende deel van veeboere reeds die onmiddellike gevaar van totale bedryfsineenstorting in die gesig staar.
Vrystaat Landbou (VL), saam met sleutelrolspelers in die landboubedryf waaronder die Suider-Afrika Agri-inisiatief (SAAI) en Sakeliga, het deur hul regsverteenwoordiger formele stappe geïnisieer om die staat se monopolie oor die verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS)-entstowwe te verbreek.
Indien gunstige reaksie nie teen die sperdatum ontvang word nie, sal verdere regsoptrede oorweeg word, het VL Dinsdag in ‘n amptelike verklaring gesê.
Daar is ook benadruk dat die stap geneem is in belang van die bedryf, voedselsekerheid en die breër ekonomie.
Volgens Francois Wilken, VL-voorsitter, beperk huidige regulasies en protokolle wat nie vir die huidige realiteit ontwerp is nie, boere onredelik om normaal te kan handel en finansieel te oorleef.
Hy sê die situasie is só kritiek dat ’n beduidende deel van veeboere reeds die onmiddellike gevaar van totale bedryfsineenstorting in die gesig staar.
Volgens Wilken sal die beskikbaarstel van entstowwe aan die privaat sektor geensins die staat se toegang tot entstowwe benadeel nie maar eerder die staat se las verlig en help met entstofverspreiding.
Die organisasies het vroeër die week ’n brief aan die Minister van Landbou en senior staatsamptenare gerig waarin geëis word dat daar skriftelik teen 30 Januarie bevestig word dat veeboere privaat entstowwe mag verkry en toedien, in samewerking met staats- en privaat veeartse.
“Hierdie stap volg ná maande van stilswye, onsekerheid en toenemende uitbrekings onder ’n volledig gesentraliseerde, staatsbeheerde stelsel,” sê Wilken, wat waarsku dat die voortbestaan van Suid-Afrika se veeboerdery- en vleisbedryf nou direk in gevaar is.
Volgens Wilken word lede en ondersteuners van die betrokke organisasies se grondwetlike regte ernstig geskend deur ’n BKS-uitbreking wat vinnig oor verskeie provinsies versprei het en reeds só buite beheer is dat die Minister van Landbou self aangedui het dat ’n nasionale ramptoestand oorweeg word.
Tydens ’n mediakonferensie op 14 Januarie het die Minister aangekondig dat die staat se strategie daarop gemik is om die hele nasionale veekudde te ent. Boere wag egter steeds op ’n duidelike, uitvoerbare plan en tydlyn.
Die eisbrief lig onder meer uit dat daar geen rasionele of wetlike rede is om boere te verbied om self teen BKS te ent nie.
Daar word ook genoem dat betroubare entstofverskaffers gereed en in staat is om die privaat sektor van entstof te voorsien. “Om dit toe te laat is die logiese en noodsaaklike stap om boere weer ’n mate van beheer en stabiliteit te gee,” sê Wilken.
Vrystaat Landbou het beklemtoon dat boere nie langer kan wag terwyl die siekte onbeheerd versprei nie.
Benewens die entstof-kwessie is die organisasie ook bekommerd oor die vertraging met die uitreiking van permitte onder Artikel 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965) aan privaat maatskappye.



