Local newsNews

Kommer oor BKS-uitbraak naby Lesotho-grens

Die groot aantal rondloperdiere wat in padreserwes en dorpsgebiede van 13 grensdorpe aangetref word en wat vanuit Lesotho afkomstig is, vererger die bedreiging van verdere verspreiding van bek-en-klouseer.

Vrystaat Landbou (VL) sê hy is bekommerd oor die uitbraak van bek-en-klouseer (BKS) wat die afgelope naweek in Lesotho aangemeld is. Die uitbraak het na bewering sowat 15 km vanaf Clarens, in ’n gebied aangrensend aan die Golden Gate Nasionale Park, onder ’n trop van 17 beeste voorgekom, waarvan sewe positief getoets het.

Volgens inligting is daar reeds met inentings begin. Die omvang van die veldtog en die spesifieke virusstam is egter nie bekend nie, het VL gesê.

Teen die agtergrond van voortdurende oorgrensmisdaad, veral veediefstal deur sindikate wat reeds dekades lank daagliks en weekliks langs die RSA/Lesotho-grens plaasvind, verhoog hierdie uitbraak die risiko vir grensboere aansienlik, meen dr Jane Buys, Veiligheid risiko-analis van VL.

“Die groot aantal rondloperdiere wat in padreserwes en dorpsgebiede van 13 grensdorpe aangetref word en wat vanuit Lesotho afkomstig is, vererger die bedreiging van verdere verspreiding van bek-en-klouseer.”

Buys wys verder uit dat ’n groot tekortkoming is dat daar tans slegs één funksionele skut langs die hele RSA/Lesotho-grens in die Vrystaat bestaan, wat vanuit die Harrismith/QwaQwa-gebied opereer. “Daar is aanduidings dat skutte moontlik in Ficksburg en Zastron kan open, maar daar is tans geen duidelikheid hieroor nie.

Die skut wat voorheen in Ladybrand bestaan het en waarheen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) diere geskut het, is nie meer in werking nie.”

VL sê plaaslike munisipaliteite bly in versuim om hul grondwetlike verpligting om skutte daar te stel na te kom, en kwarantynskutte om dieresiektes aan te spreek wat die verantwoordelikheid van die Department van Landbou en Landelike Ontwikkeling is, het oor dekades ook nog nie gerealiseer
het nie.

Die Standaard Prosedure wat tussen die Departement van Landbou, die SANW, die SAPD en boere moet bestaan oor watter prosedures gevolg moet word wanneer vee op plase vanuit Lesotho in Suid-Afrika gevind word, is ook al ’n geruime tyd nog nie gefinaliseer nie en hou direk verband met die risiko’s rakende die verspreiding van dieresiektes.

Buys meen dit is duidelik dat daar op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak wesenlike tekortkominge in grensbeheer bestaan, en dat daar oor dekades heen geen noemenswaardige verbetering plaasgevind het nie.

Vrystaat Landbou het bevestig dat daar môre, 26 Februarie  ’n Grensbeveiligingsforum-vergadering onder leiding van die SANW in Ladybrand gehou sal word. Alle rolspelers, insluitend grensowerhede, die SAPD, landbougemeenskappe en Lesotho se eweknieë, sal by die vergadering gevra word om verskerpte operasies en gesamentlike optrede van stapel te stuur om veediefstal, rondloperdiere en onwettige oorgrensweiding daadwerklik aan te spreek.

Vrystaat Landbou het ’n dringende beroep op alle owerhede gedoen om oorgrensmisdaad en verwante insidente as ’n prioriteit te hanteer. Die organisasie waarsku dat veiligheid van veekuddes en die voortbestaan van grensboere in gedrang is.

Boere is intussen ook versoek om beweging na en van hul plase streng te monitor en enige verdagte of onwettige aktiwiteit onmiddellik by die SAPD en SANW aan te meld en formeel bystand te versoek.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button