Local newsNews

Vennootskap met Duitsland gaan nie SA se onmiddellike BKS-krisis oplos nie

As 'n land wat vry is van bek-en-klouseer sonder inenting, is Duitsland se stelsels gebou rondom vinnige inperking, uitdunning en streng biosekuriteit binne 'n goed toegeruste veeartsenykundige infrastruktuur.

‘n Vennootskap tussen die regerings van Suid-Afrika en Duitsland wat daarop gemik is om bek-en-klouseer te bekamp, mag dalk nie die dringende werklikhede aanspreek waarmee Suid-Afrikaanse boere nou te kampe het nie. Dit is die bekommernis van Vrystaat Landbou (VL).

Hoewel internasionale samewerking en kennisuitruiling verwelkom word, sê VL president Francois Wilken, dat Suid-Afrika midde-in ’n langdurige en groeiende bek-en-klouseerkrisis sit wat reeds ernstige ontwrigtings in die beweging van vee, marktoegang en die finansiële volhoubaarheid van
produsente veroorsaak het. Wilken sê die situasie vereis onmiddellike, praktiese ingrypings, nie langtermyn diplomatieke inisiatiewe nie.

Wilken het daarop gewys dat Duitsland se veesektor funksioneer onder omstandighede wat wesenlik verskil van dié in Suid- Afrika. As ‘n land wat vry is van bek-en-klouseer sonder inenting, is Duitsland se stelsels gebou rondom vinnige inperking, uitdunning en streng biosekuriteit binne ‘n goed toegeruste
veeartsenykundige infrastruktuur.

Suid-Afrika, daarenteen, staar aktiewe uitbrekings in verskeie provinsies in die gesig, met poreuse grense, ’n wild-veekoppelvlak en ’n staatsveeartsenydiens met ernstige kapasiteitsbeperkings.

Vrystaat Landbou sê hy is bekommerd dat die vennootskap die risiko loop om waardevolle tyd en hulpbronne te vermors na kennisdelingsprogramme, beleidsbesprekings en tegniese uitruilings, terwyl boere vinnige, grootskaalse inenting, duidelike en praktiese diere-identifikasiestelsels en effektiewe
bewegingsbeheer op die grond benodig, met minimale impak op marktoegang en kontantvloei.

Die Minister van Landbou het vroeër ‘n taakspan aangestel wat bestaan uit toonaangewende tegniese kundiges om praktiese oplossings vir die bestuur van bek-en- klouseer in Suid-Afrika te ontwikkel. Daarbenewens is ‘n 10-jaar strategiese plan vir bek-en- klouseerbestuur aangekondig om die land te lei na volhoubare beheer en uiteindelike uitwissing van die siekte.

Volgens VL blyk daar egter min sigbare vordering te wees  met die implementering van die
uitkomste van hierdie werk.

Eerder as om nuwe internasionale inisiatiewe te loods, moet die regering die implementering
van die aanbevelings en strategieë wat reeds met plaaslike kundigheid ontwikkel is, prioritiseer, sê Wilken.

Die organisasie wil hê dat daar gefokus word op:

• Uitbreiding van toegang tot effektiewe entstowwe en dat die privaat sektor in staat gestel word om meer te help met inentingsprogramme
• Versterking van grensbeheer en siektemonitering
• Herstel van funksionele veeartsenykundige dienste met voldoende kapasiteit om uitbrake te
bestuur

VL het egter ook sy waardering uitgespreek vir die entstowwe wat reeds versprei is om geaffekteerde
boere te help, sowel as die ondersteuning wat van die provinsiale departement van landbou
ontvang is ten spyte van hulpbronbeperkings. “Hierdie pogings het belangrike verligting aan boere
op die grond gebied.”

Wilken het  weer benadruk dat sonder die vinnige beskikbaarheid van entstowwe kan bek-en-klouseer nie effektief beheer word nie. Hy het ‘n beroep gedoen op rolspelers om nasionale besluitnemingsknelpunte uit te sorteer om die veebedryf te beskerm,”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button