Inbrake en ondersoek na beweerde onreëlmatighede lê toetsstasies se dienste lam
Die lisensie toetsstasies in Vredefort, Heilbron en Koppies word tans geraak.
Inbrake en ‘n ondersoek na beweerde onreëlmatighede met transaksies, het tot gevolg dat die dienste van drie van die provinsiale bestuurslisensie toetssentrums in die Fezile Dabi-distrik al vir maande lam gelê word. Dit sluit die toetssentrums in die Vrystaatse dorpe Koppies, Heilbron en Vredefort in.
Nthabiseng Matsoake van die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer, het vandeesweek bevestig dat die Vredefort toetssentrum gesluit is na ‘n inbraak op 7 Oktober 2025. Nie een van die departement se sentrums in Heilbron is meer operasioneel nie, na inbrake by dié sentrums in onderskeidelik Maart 2023 en Oktober 2025. ‘n Ondersoek na beweerde onreëlmatighede by die toetssentrum in Koppies het ook ‘n negatiewe impak op dienslewering by dié sentrum wat steier onder ‘n personeeltekort weens skorsing van amptenare hangende die ondersoek, het DA-raadslid Carina Serfontein gesê.
Die DA het verlede jaar al sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan behoorlike befondsing vir voldoende sekuriteitsdienste by toetssentrums in die provinsie ná verskeie toetssentrums geteiken is onder ‘n vlaag van inbrake.

Benewens die uitdagings van misdaad, sukkel toetssentrums om te funksioneer met vele uitdagings waaronder tekorte aan basiese behoeftes soos papier en drukkersink. In die geval van die Koppies-toetssentrum, is daar al sedert Januarie ‘n tekort aan die papier waarop bestuurslisensies gedruk moet word, het Serfontein in ‘n verklaring gesê wat deur die DA uitgereik is.



