Hoërskool Parys se atlete maak geskiedenis by VS-kampioenskap
Naas die medaljes wat Hoërskool Parys se atlete verower het, is verskeie persoonlike tye en afstande behaal.
Hoërskool Parys se atlete het die geskiedenisboeke herskryf, met die meeste atlete nog wat die skool by die Vrystaat-atletiekkampioenskappe verteenwoordig het. Boonop was dit ook die meeste medaljes nog wat die skool by dié kampioenskappe kon verower.
Die atlete het drie goue, vyf silwer en vyf brons medaljes huis toe gebring, en gespog met 34 atlete onder die top agt plasings, en 13 podiumplasings. Jessie Joubert het goud in die 3 000m behaal, terwyl Inke Nortman goue medaljes in haar spiesgooi- sowel as driesprong-items behaal het.

Silwer medaljes is verower deur Courtney Cooper (100m), Heinrich Nortje (hoogspring), Gerrit Prinsloo (spiesgooi), Nuri Rourke (800m) en Simone Joubert (hamergooi), terwyl die skool se o19-aflosspan brons medaljes verdien het.
Jessie, Inke, Gerrit en Simoné het ook persoonlike beste tye en afstande by die byeenkoms aangeteken.
Die SA Skole atletiekbyeenkoms vind plaas van 8-11 April by die Royal Bofokeng-stadion in Rustenburg.



