Local newsNews

Wêrelddownsindroomdag: ’n Dag van hoop en samehorigheid by Buddy Walk

families, vriende en organisasies byeengebring om mense met Downsindroom te vier, bewusmaking te skep

Op 21 Maart – ’n datum wat wêreldwyd gekies is om die unieke samestelling van drie chromosome 21 te simboliseer – word Wêrelddownsindroomdag gevier. Dit is ’n dag wat nie net bewusmaking skep nie, maar ook stemme versterk en die wêreld herinner aan die waarde van elke lewe, ongeag die hoeveelheid chromosome.

Hierdie jaar is die dag op ’n besondere wyse by die Voortrekkermonument gevier met ’n
Buddy Walk – ’n inisiatief van die Downsindroomvereniging en die Pioniersentrum, aangebied in samewerking met Helpende Hand se tuisversorgingstudente.

Die Pionierswerf het reeds vroegoggend begin lewe kry met die opstel van stalletjies, vrolike
en kleurvolle baniere, asook die kenmerkende geel en blou kleure wat hoop en
bewusmaking simboliseer. Teen 10:00 het die amptelike verwelkoming plaasgevind, waarna
mense aan die Buddy Walk deelgeneem het – nie net as ’n fisieke aktiwiteit nie, maar
as ’n simboliese tree vorentoe na ’n samelewing waar almal aanvaar en ingesluit voel.

Die dag se program het ’n verskeidenheid aktiwiteite gebied wat deelname en
gemeenskapsgees bevorder het: van gesigverf en speletjies vir kinders, tot ’n tombola,
toutrek en fotostasies waar kosbare herinneringe vasgevang kon word. Musiek en beweging
het die hartklop van die dag gevorm en bygedra tot ’n feestelike atmosfeer vir almal
teenwoordig.

’n Besonderse aspek van die dag was die betrokkenheid van vrywilligers, onder andere
studente van Helpende Hand se tuisversorgingsprogram.

Hierdie jongmense het hul tyd vrywillig afgestaan en met deernis, geduld en toewyding ondersteuning gebied waar nodig.

Volgens Dané van Wyk, voorsitter van Helpende Hand se opleidingsinstituut, bring dienslewering in gemeenskappe soos hierdie mense bymekaar en versterk dit ’n kultuur van ondersteuning en omgee.

Sy beklemtoon dat sulke ervarings nie net ’n verskil in ander se lewens maak nie, maar ook jongmense vorm deur nuwe perspektiewe te bied en hul waardering vir elke individu se uniekheid te verdiep.

Vir Hanlie Swanepoel, organiseerder van die Downsindroomvereniging, is Wêrelddownsindroomdag ’n dag van trots, viering en bewusmaking. “Dit herinner my aan die ongelooflike waarde, unieke talente en bydraes van mense met Downsindroom,” sê sy.

Talle pretaktiwiteite is aangebied waaronder ook toutrek. Foto: Verskaf
Talle pretaktiwiteite is aangebied waaronder ook toutrek. Foto: Verskaf

Vir die organisasie bied die dag ook ’n belangrike geleentheid om sigbaarheid te verhoog,
gemeenskappe op te voed en families te ondersteun – alles met die doel om insluiting,
begrip en aanvaarding te bevorder.

Die Pioniersentrum speel ’n sleutelrol in die skep van toeganklike en inklusiewe ervarings.
Volgens Christa Jansen, bedryfshoof van kultuur en opvoedkundige programme, is dit vir
hulle van kardinale belang om ’n ruimte te bied waar alle besoekers welkom voel. Sy wys
daarop dat die sentrum se inklusiewe benadering daarop gemik is om die Monument
relevant te hou deur samewerking met organisasies soos die Downsindroomvereniging van
Suid-Afrika.

Daar was ook prettige gesigverf aktiwiteite. Foto: Verskaf

Wêrelddownsindroomdag herinner ons daaraan dat persone met Downsindroom nie deur
hul chromosome gedefinieer word nie, maar deur hul unieke persoonlikhede, talente en
bydraes tot die samelewing. Hulle is deel van ons skole, werkplekke en gemeenskappe – en
hul plek in die samelewing is ’n reg, nie ’n voorreg nie.

Die betekenis van 21 Maart strek dus verder as ’n enkele gemeenskap. Dit is ’n dag wat
Suid-Afrikaners uitnooi om saam te staan, samesyn te bevorder en te erken dat erfenis – en
menswaardigheid – aan almal behoort.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button