Local newsNews

BKS-hofuitspraak: Minister gedwing om inentingsplan ter tafel te lê

Die hofgeding tussen Vrystaat Landbou, Saai, en Sakeliga teen die Departement van Landbou gaan oor entstofbeheer.

Vrystaat Landbou (VL) sê hy verwelkom die opdrag van die Pretoriase Hooggeregshof wat die Minister van Landbou, John Steenhuisen, verplig om ‘n skema te finaliseer wat private inenting teen bek-en-klouseer (BKS) sal toelaat. Die organisasie sê in sy reaksie dit is ‘n beduidende verskuiwing van die Departement van Landbou se vorige standpunt.


Volgens Francois Wilken, president van VL, het die hof die minister gelas om die skema – wat op
die nippertjie aan die hof voorgelê is – teen 17 April gepromulgeer te hê, en sal die saak weer op 28 April voor die hof kom.

Die verwikkeling rondom die voorgestelde voorkomende inentingskema volg op ‘n dringende aansoek wat deur VL, Sakeliga en SAAI ingedien is om te keer dat die regering die private verkryging en toediening van BKS-entstowwe belemmer.


“Tot nou het die minister private inenting teengestaan en onder eed volgehou dat slegs
staatsgerigte inenting deur gemagtigde amptenare toegelaat word. In ‘n laaste-minuut
voorlegging aan die hof is ‘n konsepskema egter ingedien wat, vir die eerste keer voorstel dat
private inenting onder leiding van private veeartse en sonder direkte staatstoesig uitgevoer mag
word,” het VL-president Francois Wilken gesê.


“Hierdie skielike verskuiwing bevestig wat ons heeltyd aangevoer het, naamlik dat daar geen
wettige basis is om die privaatsektor se deelname aan bek-en-klouseer-inenting te voorkom nie,” het Wilken bygevoeg.


Die organisasie sê die konsepskema is ‘n stap in die regte rigting, maar is VL van mening dat dit onvolledig bly en ernstige kommer wek. “Bepalings wat entstofverkryging sentraliseer en breë diskresionêre magte aan die Minister verleen, loop die risiko om dieselfde beperkings te laat voortduur wat reeds ernstige ontwrigting in die landbousektor veroorsaak het,” het die organisasie benadruk.


Hofingryping bring aanspreeklikheid


“Die feit dat hierdie voorstel slegs onder litigasiedruk gematerialiseer het, is kommerwekkend.
Boere kan nie beleidsverlamming bekostig terwyl die siekte versprei en verliese toeneem nie.”
Die hof se ingryping plaas nou duidelike wetlike verpligtinge en sperdatums op die minister – ‘n
kritieke stap in die rigting van die herstel van sekerheid in die veebedryf,” het Wilken gesê.

Die hof moet nog beslis oor die meriete van VL, Sakeliga en Saai se aansoek wanneer die saak op 28 April hervat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button