Geen nuwe BKS-gevalle vir VS vir tweede week agtereenvolgens
Die totale aantal ge-ente beeste in die Vrystaat staan nou op 1 734 084, het die Vrystaatse Departement van Landbou Vrydag gesê.
Geen nuwe gevalle van Bek-en-klouseer is vir die tweede week agtereenvolgens in die Vrystaat aangemeld nie. Die Vrystaatse Dpeartement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake het Vrydag 23 Oktober in ‘n amptelike verklaring gesê dat die provinsie se totale aantal bevestigde gevalle van Bek-en-klouseer steeds onveranderd op 804 staan.
Van die 804 bevestigde gevalle, is 787 gevalle reeds suksesvol opgelos en voorgeskrewe kwarantynmaatreëls opgehef. Slegs 17 gevalle is steeds aktief en onder kwarantyn.
Die aantal gevalle wat tot dusver per munisipale gebied aangemeld was, is as volg:
Kroonstad (Moqhaka) -127 bevestigde gevalle
Heilbron (Ngwathe) – 98
Sasolburg (Metsimaholo) – 64
Frankfort (Mafube) – 81
Bethlehem (Dihlabeng) – 75
Warden (Phumelela) – 46
Qwaqwa (Maluti-a-Phofung) – 29
Welkom (Matjhabeng en Nala) -55
Ladybrand (Mantsopa en Setsoto) – 46
Smithfield (Mohokare en Manguang) – 23
Fauresmith (Kopanong en Letsemeng) – 28
Bloemfontein/Thaba Nchu (Manguang) – 35
Bultfontein (Tswelopele en Masilonyana) – 44
Boshof (Tokologo) – 53
Die departement sê 1 719 746 beeste in die Vrystaat is reeds ‘n eerste keer met die Biogenesis Bago en Dollvett entstowwe teen bek- en klouseer ge-ent. Nog 14 341 beeste is deur boere in die provinsie self ge-ent wat die totale aantal ge-ente beeste in die Vrystaat op 1 734 084 te staan bring.
Vaksinering gaan voort in ooreenstemming met die nasionale Bek-en-klouseer beheerstrategie, met prioriteit wat gegee word aan geaffekteerde gebiede en naburige plase, endemies gekoppelde eiendom en hoë risiko gebiede aan die hand van veeartsenykundige risiko assesserings.
Aansoeke vir vaksinering is steeds oop en die departement sê ‘n groot aantal aansoeke word steeds deurlopend ontvang. Die departement het ook gesê hoewel alle aansoeke nie met die aanvanklike vaksineringsprogramme geakkommodeer kan word nie, weens beperkte beskikbaarheid van entstofvoorraaad en die nodigheid om prioriteit te gee aan hoë risiko gebiede, hy steeds boere aanmoedig om voort te gaan om hul entingsaansoeke in te dien, omdat dit die departement help met die beplaning van toekomstige entstof allokering en entingsveldtogte.



