HealthNews

5 Gesondheidsmites wat Suid-Afrikaners steeds glo — en hoekom dit jou duur kan kos

Deur jouself te vergewis van die regte feite en mediese probleme dadelik aan te spreek, kan jy jouself baie onnodige kostes spaar.

Vir baie Suid-Afrikaners word gesondheidsbesluite net soveel deur gewoontes en hoorsê as deur feite beïnvloed. Of dit nou is om ’n dokterbesoek uit te stel, staat te maak op ’n vinnige draai by die apteek, of te aanvaar dat mediese fondse alles sal dek — hierdie keuses spruit dikwels uit lank gevestigde oortuigings.

Met stygende gesondheidskoste en ongelyke toegang, kan sommige van hierdie oortuigings meer skade as goed doen.

Volgens Lance Blumeris van Unu Health word ‘n patroon gesien waar mense mediese sorg uitstel of besluite neem op grond van verouderde aannames, en dit lei dikwels tot meer ernstige — en duurder — gesondheidsprobleme later,” sê hy.

Hier is vyf algemene gesondheidsmites wat baie Suid-Afrikaners steeds glo — en die werklikheid daaragter:

Mite 1: Ek hoef net dokter toe te gaan wanneer ek regtig siek is.
Vir baie mense word ’n dokterbesoek as ’n laaste uitweg gesien — iets wat gereserveer word vir wanneer simptome ernstig raak.

Werklikheid:
Om te wag totdat jy “regtig siek” is, kan klein, hanteerbare toestande in ernstiger probleme verander. Vroeë ingryping is dikwels eenvoudiger, meer doeltreffend en aansienlik goedkoper.

“Teen die tyd dat baie mense hulp soek, het hul toestand reeds vererger,” sê Blumeris. “Om vroeër sorg te kry — selfs vir iets wat gering lyk — kan komplikasies voorkom en langtermynkoste verminder.”

Mite 2: ‘n Mediese fonds beteken ek is ten volle gedek.
Daar is ’n algemene aanname dat mediese fondse volledige gemoedsrus bied.

Werklikheid:
Baie Suid-Afrikaners ontdek dat mediese fondse nie altyd alles dek nie — veral wanneer dit kom by daaglikse voordele, huisdokterbesoeke of spesifieke behandelings. Met stygende koste gradeer meer mense hul planne af of gebruik hul spaargeld vroeër in die jaar op.

“Mense is dikwels verbaas oor wat nie gedek word nie,” verduidelik Blumeris. “Om jou voordele te verstaan — en alternatiewe maniere te hê om sorg te kry — raak al hoe belangriker.”

Mite 3: Ek kan net die apteker vra in plaas daarvan om ’n dokter te sien.
Apteke het ’n gerieflike eerste stop geword vir vinnige advies en oor-die-toonbank oplossings.

Werklikheid:
Al speel aptekers ’n belangrike rol in primêre sorg, is hulle nie ’n plaasvervanger vir ’n volledige mediese konsultasie nie — veral wanneer simptome aanhou of vererger.

Om slegs op apteekadvies staat te maak, kan soms ’n behoorlike diagnose en behandeling vertraag.

“Aptekers is ’n belangrike deel van die gesondheidsorgstelsel,” sê Blumeris, “maar daar kom ’n punt waar ’n behoorlike mediese konsultasie nodig is om werklik te verstaan wat aangaan.”

Mite 4: Aanlyn dokterkonsultasies is nie betroubaar nie.
Ten spyte van die groei van digitale gesondheid, bevraagteken sommige mense steeds of ’n virtuele konsultasie vertrou kan word.

Werklikheid:
Digitale konsultasies het ’n wyd aanvaarbare en doeltreffende manier geword om gesondheidsorg te bekom — veral vir algemene toestande, opvolgafsprake en vroeë advies. Dit bied ook ’n meer bekostigbare en toeganklike opsie vir baie Suid-Afrikaners.

“Daar was ’n beduidende verskuiwing in vertroue,” sê Blumeris. “Vir baie alledaagse gesondheidskwessies is digitale konsultasies nie net gerieflik nie, maar ook klinies gepas.”

Illustrasiefoto: Unsplash
Illustrasiefoto: Unsplash

Mite 5: As dit nie ernstig is nie, sal ek eerder wag.
Dit is ’n ingesteldheid wat baie mense het — veral wanneer hulle mediese koste probeer vermy.

Werklikheid:
Om sorg uit te stel, kan dikwels lei tot langer hersteltye, meer komplekse behandeling en hoër koste op die lang duur. Hierdie benadering is veral riskant wanneer dit by chroniese toestande kom, wat dikwels geleidelik en sonder duidelike simptome ontwikkel.

“Ons sien dikwels mense wat gehoop het iets sal vanself regkom, net om later meer intensiewe behandeling nodig te hê,” merk Blumeris op. “Vroeë optrede lei byna altyd tot beter uitkomste. Die sleutel is nie net toegang tot gesondheidsorg nie, maar om te weet hoe om dit effektief te gebruik. Klein besluite — soos wanneer om advies te soek — kan ’n groot verskil maak aan beide gesondheidsuitkomste en finansiële welstand.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button