Werkloosheid een van SA se grootste uitdagings, jongmense die meeste geraak
'n Toekomsbrug vir mense tussen werke
Volgens die mees onlangse data bly werkloosheid in Suid-Afrika op kritieke vlakke. Die uitgebreide werkloosheidskoers draai steeds naby 32%, terwyl werkloosheid onder die jeug selfs hoër is. Hierdie werklikheid plaas nie net druk op huishoudings se finansies nie, maar raak ook mense se eiewaarde, geestesgesondheid en die stabiliteit van die gesin in die gemeenskap.
Die Toekomsbrug-inisiatief is deur Solidariteit Helpende Hand ontwikkel in samewerking met die nie-winsgewende organisasie Jakob se Put. In ander gemeenskappe is reeds bewys dat dit ‘n betekenisvolle verskil kan maak. Hierdie inisiatief bied nie net praktiese ondersteuning vir werksgeleenthede nie, maar skep ook ‘n ondersteuningsnetwerk waar deelnemers hoop, rigting en selfvertroue kan herwin totdat hulle weer die werksmag betree.
“Die Toekomsbrug vir mense tussen werke gaan nie net daaroor om ‘n werk kry nie, maar om mense te help om weer hul waarde raak te sien en met hoop vorentoe te beweeg,” sê Hannie Viljoen, bestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Gemeenskapsjaar. “Ons sien daagliks hoe werkloosheid mense emosioneel, geestelik en fisies raak. Hierdie inisiatief skep ‘n ruimte waar mense nie alleen staan nie, maar deel word van ‘n netwerk wat hulle ondersteun en toerus met hoop vir die toekoms.”
Die inisiatief sluit ook samewerking met en die fasilitering van verskeie netwerke in die gemeenskap in om werksoekers holisties te ondersteun met die bou van professionele netwerke.
‘n Netwerkontbyt is onlangs in Bloemfontein aangebied en het nuwe momentum geskep vir die vestiging van Helpende Hand Toekomsbrug vir werksoekers in die stad. Die ontbyt, aangebied deur Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek, het op 9 April plaasgevind en het rolspelers uit die gemeenskap byeengebring om netwerke te verken vir een van Suid-Afrika se grootste uitdagings.

Na aanleiding van die netwerkontbyt word beplan om die Solidariteit Helpende Hand Toekomsbrug binnekort amptelik van stapel te stuur in Bloemfontein.
As deel van hierdie proses het Solidariteit Helpende Hand ook ‘n gratis omvattende fasiliteerdersgids ontwikkel. Dit dien as ‘n praktiese hulpmiddel vir ander dorpe en gemeenskappe wat soortgelyke inisiatiewe wil begin en bied duidelike riglyne vir die vestiging en bestuur van die inisiatief.

Vir meer inligting oor die inisiatief of om die gids te verkry, stuur ‘n e-pos aan hannie@helpendehand.co.za.



