Local newsNews

Die dae toe ‘n tiekie nog ‘n blik kondensmelk kon koop

Hierdie berig vorm deel van Parys Gazette se bylaag ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar. Jy kan die volledige bylaag lees by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/

Van ‘n skoen tot ‘n visstok – dié het jy gekry in Malie-se-winkel net oor die wa-brug aan Transvaal-kant van die Vrystaatse Parys. En wat jy daar nie kon kry nie, het jy waarskynlik nie nodig gehad nie.
M. Jalalpor & Co, maar vir jarelange kliënte sommer Malie-se-winkel, is een van die oudste en bekendste besighede wat sinoniem is met Parys. Die familie-onderneming is oor jare van pa na seun oorgedra. Vandag is Baboo die derde geslag aan die stuur.


Baboo se oupa, Moosa (Moses) Yacoob, het die winkel in 1929 gekoop.


Die winkel het ongeveer in 1909 as algemene handelaar ontstaan, en so het dit ook oor die jare gebly.
In 1952 het Baboo se pa, Malie, oorgeneem. Saam met baie van die boere het hy hier grootgeword en oud geword.


Soos wat sy geslag gekom en gegaan het, het hy ook die geslagte van sy kliënte sien kom en gaan.
Baboo het tussen die winkelrakke grootgeword, na skool elektriese ingenieurswese gaan studeer, maar kort voor lank het sy hart terug verlang na die Vaalrivier en die bekendheid van die winkeltjie oor die brug.


Die enigste verandering oor jare was die naam, toe dit in 1950 van S.A. Cassim & Co herdoop is tot M. Jalalpor & Co.


Wat die winkel so interessant maak is die versameling kruideniersware met elkeen ‘n spesiale storie, wat Malie oor jare bymekaar gemaak het.

Baboo Yacoob met die kosbare versameling kruideniersware uit toeka se dae wat jy in die winkel kry. Foto's: Liezl Scheepers

Daar is die eerste Coke-bottel wat in die dorp afgelewer is, ‘n blikkie nugget skoenpolitoer wat nog van Engeland af kom voordat Nugget hier in Suid-Afrika gemaak is. Daar is XXX Mint lekkergoed van die dae toe dit nog ‘n tiekie gekos het en ‘n tiekie blik kondensmelk. Jy noem dit – dit was in hierdie winkel. Vandag is hier steeds ‘n verskeidenheid voorraad.

Selfs die eerste Coke-bottel wat destyds in Parys afgelewer is, kry jy in dié winkel. Agter die toonbank is Baboo Yacoob. Foto. Liezl Scheepers.
Selfs die eerste Coke-bottel wat destyds in Parys afgelewer is, kry jy in dié winkel. Agter die toonbank is Baboo Yacoob. Foto. Liezl Scheepers.

Baboo vertel toe sy oupa in Parys gekom het was hier nog net sowat 30 winkels in die dorp.

Vir baie boere in die distrik was dit nader Parys toe as na Potchefstroom en is hier van skoene, tot kruideniersware en fietstoebehore gekoop.

“Reisende verskaffers en fabrieke het gereeld voorraad gebring en besigheid was goed,” vertel Baboo.

Die bekende winkel duskant die brug oor die Vaalrivier buite Parys se deure is al vir meer as 'n eeu oop. Foto: Liezl Scheepers
Die bekende winkel duskant die brug oor die Vaalrivier buite Parys. se deure is al vir meer as ‘n eeu oop. Foto: Liezl Scheepers


Sy pa moes skool los en in die winkel kom help toe oupa Moosa siek geword het. Oupa Moosa is in 1962 oorlede.

Daardie jare was daar nog winkels in beide geboue duskant die brug.

Na Malie se dood in 2014, het Baboo die familie-winkel se deure oopgehou, en is ‘n besoek aan dié winkel ‘n nostalgiese reis wat jou terugneem na die dae toe ‘n tiekie, of te wel 3c nog genoeg was vir ‘n blikkie kondensmelk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button