Boere kyk nie na toesprake nie, maar na aksies
TLU SA sê die bestuur van landbou verg besondere kundigheid.
Dit is noodsaaklik dat gesonde landboukundige beginsels sal seëvier en dat markkragbeginsels die grondslag sal vorm waarteen alle beleidsbesluite en wetgewing getoets word. So het TLU SA vanoggend gereageer op kabinetskommelinge wat Dinsdagaand deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is, en waarvolgens die DA se Willie Aucamp nou aangestel as minister van landbou.
Die voormalige minister van landbou, John Steenhuisen, sal nou die amp as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging beklee.
TLU SA het in sy reaksie bygevoeg dat hoewel politieke verandering deel van ‘n demokrasie is, die landbousektor nie die gevolge van politieke onsekerheid en kabinetverskuiwings verdiskonteer nie.
“Landbou funksioneer nie volgens politieke termyne nie. Die sektor benodig stabiliteit, beleidskontinuïteit en besluitneming wat die langtermynbelange van voedselproduksie voorop stel. Die uitdagings waarmee produsente gekonfronteer word, wag nie totdat politieke prosesse afgehandel is nie,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA gesê.
Die organisasie is van mening dat die onmiddellike fokus op die beheer van bek-en-klouseer (BKS) moet wees om ‘n kollektiewe benadering te volg waarin alle beskikbare kundigheid en kapasiteit, in beide die openbare en private sektor, benut word om die siekte onder beheer te bring.
“Landbou is die bestuur van biologiese prosesse tot by winsgewendheid. Dit is terselfdertyd ‘n ekonomiese proses wat uiteindelik verantwoordelik is vir die strategies noodsaaklike verskaffing van voedsel. Die grootste stabiliseerder in enige land is dat daar kos op mense se tafels is. Daarom mag politieke doelwitte nooit inmeng met die besluite wat nodig is om voedselproduksie te beskerm en uit te bou nie.”
Van Zyl het ook beklemtoon dat die verantwoordelikheid van die Minister van Landbou veel verder strek as die hantering van BKS alleen. Vraagstukke soos insetkoste, biosekuriteit, eiendomsreg, landelike veiligheid, marktoegang, infrastruktuur en beleidssekerheid vereis ewe veel aandag, meen hy.
“Minister Aucamp sal hom deeglik moet vergewis van die toenemende druk wat insetkoste op produsente plaas. Dit is ‘n uitdaging wat nie deur die regering alleen aangespreek kan word nie. Georganiseerde landbou behoort ‘n vennoot te wees in die soeke na praktiese oplossings wat die volhoubaarheid van voedselproduksie versterk.”
TLU SA se mening is dat een van minister Aucamp se grootste uitdagings daarin sal lê om die kultuur en benadering binne die Departement van Landbou verder te ontwikkel. Die sektor het ‘n departement nodig wat deur boere as ondersteunend beleef word en nie as deel van die probleem nie.
Die organisasie het Steenhuisen bedank vir sy bereidwilligheid om met georganiseerde landbou in gesprek te tree gedurende ‘n uitdagende tyd vir die sektor, en sê die organisasie hy vertrou dat die momentum wat met verskeie prosesse geskep is, nie verlore sal gaan nie.
Minister Aucamp is ook sterkte toegewens in sy nuwe amp, en sê TLU SA dat die organisasie uitsien daarna om die verhouding in belang van die landboubedryf verder uit te bou.



