Voormalige administrasieklerk by VS-hof tronk toe gestuur oor bedrog
Die hof het haar vroeër skuldig bevind aan 40 aanklagte van bedrog en nege aanklagte van geldwassery
‘n Voormalige werknemer van die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy versuim het om aan die voorwaardes van haar opgeskorte vonnis te voldoen.
Die Handelsmisdaadhof in Bethlehem het gister, Dinsdag 30 Junie, die 48-jarige Nthabiseng Adeline Motaung (48) tronk toe gestuur nadat die hof gelas het dat haar opgeskorte vonnis in werking gestel word.
Motaung, ‘n voormalige administrasieklerk wat verantwoordelik was vir Derdepartyfondse by die Landdroshof in Bethlehem, het tussen Mei 2018 en Februarie 2019 sowat R135 000 van die departement verduister. Sy het die geld onregmatig na haar eie bankrekening en dié van ‘n medebeskuldigde oorgeplaas.
‘n Ondersoek deur die Valke se Eenheid vir Ernstige Korrupsie-ondersoeke in Bloemfontein het tot haar inhegtenisneming gelei. Sy het op 27 Oktober 2023 in die Handelsmisdaadhof in Bethlehem verskyn, waar sy skuld erken het op 40 aanklagte van bedrog en nege aanklagte van geldwassery.
Die hof het haar destyds tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, maar die vonnis vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat sy die gesteelde geld in maandelikse paaiemente terugbetaal en aan ander hofvoorwaardes voldoen.
Nadat sy versuim het om die terugbetalingsvoorwaarde na te kom, is sy skuldig bevind aan minagting van die hof. Die hof het gevolglik beveel dat die opgeskorte vonnis afgedwing word, wat beteken dat sy nou agt jaar direkte gevangenisstraf moet uitdien.
Die Vrystaatse hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), generaal-majoor Mokgadi Bokaba, het die uitspraak verwelkom. “Dit is belangrik dat persone aan wie die hof toegeeflikheid bewys deur ‘n opgeskorte vonnis op te lê, die gestelde voorwaardes nakom. Hierdie saak bewys dat ‘n opgeskorte vonnis nie ligtelik opgeneem moet word nie,” het Bokaba gesê.



