Local newsNews

Skryfskool by Udolpho slyp jong skrywers

Die leerders is blootgestel aan verskeie genres en tegnieke wat hulle toerus om hul kreatiewe potensiaal ten volle te ontwikkel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het gedurende Julie drie suksesvolle Ekspo-slypskole vir uitstaande Afrikaanssprekende hoërskoolleerders in Pretoria, die Vrystaat en die Wes-Kaap aangebied. Die program bied aan jong skrywers die geleentheid om hul kreatiewe vaardighede onder leiding van die bekroonde draaiboek- en liedjieskrywer Sallas de Jager te ontwikkel.


Die slypskole het van 2 tot 4 Julie by die Voortrekkermonument in Pretoria, van 6 tot 8 Julie
by die FAK se Udolpho Rivierplaas buite Parys, en op 16 en 17 Julie by die NG Kerk
Paarlberg in die Kaap plaasgevind.


Die FAK se Ekspo-slypskole fokus op die ontwikkeling van jong skryftalent. Slegs leerders
wat op grond van hul prestasie onder die topleerders van hul graad geplaas het, of deur ‘n
onderwyser aanbeveel is vanweë hul besonderse skryftalent, is genooi om deel te neem.

Onder leiding van Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, is die leerders blootgestel aan verskeie genres en tegnieke wat hulle toerus om hul kreatiewe
potensiaal ten volle te ontwikkel.


Die program het onder meer gefokus om die deelnemers te help om hulle eie stem te vind deur hulle aan te moedig om uit hul eie lewenservaring, kultuur en identiteit te skryf, en om stories te vertel wat eg en geloofwaardig is. Die einddoel is dan om hierdie beginsel en selfvertroue toe te pas in hul digkuns, kortverhale, rubrieke, draaiboekskryf en ‘n praktiese inleiding tot die fondasie vir die skep van drie dimensionale karakterontwikkeling binne narratiewe skryfwerk.

Die leerders en aanbieders van die slypskool by die FAK se Udolpho Rivierplaas het ’n besonderse geskiedenisryke ervaring gehad. (Foto: FAK)
Die leerders en aanbieders van die slypskool by die FAK se Udolpho Rivierplaas het ’n besonderse
geskiedenisryke ervaring gehad. (Foto: FAK)

Benewens die ontwikkeling van tegniese vaardighede, het die slypskole ook gefokus op die belangrikheid daarvan om ‘n kreatiewe stem oor tyd te behou en verder uit te bou, selfs wanneer lewensomstandighede en wêreldbeskouings verander.

Sallas de Jager aan die woord in die Anglo-Boereoorlog-saal waar die slypskool by
Udolpho aangebied is. Foto: Verskaf
Sallas de Jager aan die woord in die Anglo-Boereoorlog-saal waar die slypskool by
Udolpho aangebied is. Foto: Verskaf

Die Voortrekkermonument se slypskool is deur 11 leerders bygewoon. Buiten die intensiewe
opleidingsessies het die groep ook die Ontsnapkamer in die Erfenissentrum aangepak en
die bestaande rekord vir die vinnigste voltooiingstyd verbeter. Op die tweede dag het die deelnemers ‘n begeleide toer deur die Voortrekkermonument onderneem, waar hulle
inspirasie uit die geskiedenis en kultuurerfenis kon put.


Agt leerders het die slypskool by die FAK se Udolpho Rivierplaas buite Parys voltooi. Die rustige kultuurplaas het ‘n ideale omgewing geskep waar deelnemers ongestoord aan hul kreatiewe werk kon aandag gee. Die kombinasie van praktiese opleiding en die unieke kultuurlandskap het volgens deelnemers ‘n besonderse leerervaring geskep.

Die laaste slypskool is in die NG Kerk Paarlberg se saal aangebied waar 12 leerders deelgeneem het. As deel van die program het hulle begeleide toere na die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument onderneem. Hierdie besoeke het die geskiedenis en ontwikkeling van Afrikaans op ‘n praktiese wyse vir die jong skrywers toegelig en nuwe perspektiewe gebied oor die taal waarin hulle skep.

De Jager sê die FAK beskou die ontwikkeling van jong skrywers as ‘n belegging in die toekoms van Afrikaans.

“Elke groot skrywer het êrens begin met iemand wat in sy of haar talent geglo het. Die FAK wil daardie eerste geleentheid skep waar jongmense ontdek dat hul stem waarde het en dat hul stories verdien om vertel te word. Wanneer ons in jong skrywers belê, belê ons terselfdertyd in die toekoms van Afrikaans,” het De Jager gesê.

Die FAK se Ekspo-slypskole vorm deel van die organisasie se voortdurende verbintenis om
Afrikaans as skryf-, kultuur- en uitdrukkingstaal onder jongmense te bevorder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button