Bloeddiens waarsku oor dalende bloedvoorraad
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens het minstens 3 500 eenhede bloed daagliks nodig.

Die Nasionale Bloeddiens (SANBD) het ‘n beroep op skenkers gedoen om skenkersklinieke te ondersteun te midde van die daling van bloedvoorraad landwyd.
Daar word deurentyd gepoog om minstens ‘n vyf dae bloedvoorraad beskikbaar te hê vir hospitale sou pasiënte bloed benodig. Om in die daaglikse behoefte te voorsien, moet die Bloeddiens elke dag ongeveer 3 500 eenhede bloed insamel. Hierdie teiken word egter nie gehaal nie, wat voortgesette druk op die nasionale bloedvoorraad plaas, het die Bloeddiens vandag gewaarsku.
Verskeie faktore dra by tot laer insamelingsyfers. Dit sluit minder bloedskenkingsveldtogte by skole en universiteite gedurende die eksamentyd in, asook ander eise wat om skenkers se tyd meeding.
Om in die huidige behoefte te voorsien, is daar egter meer as net gereelde bloedskenkers nodig.
Die bloeddiens het veral ‘n beroep gedoen op nuwe skenkers, skenkers wat lanklaas geskenk het, of wat weer na ‘n wagperiode kan begin skenk, om na vore te kom.
Moeders wat geboorte skenk, pasiënte wat operasies ondergaan, slagoffers van ongelukke en trauma wat noodbehandeling ondergaan, en mense wat deurlopende mediese behandeling ontvang, tel almal onder diegene wat moontlik bloed mag benodig.
“Ons doen ’n beroep op alle geskikte Suid-Afrikaners om tyd te maak om bloed te skenk ,” sê Monique Schreiner, senior bestuurder: Skenkerverhoudinge by SANBD.
“Elke skenker help om ons bloedvoorraad te versterk en gee pasiënte hoop op nog ’n môre.”
Schreiner sê veral O- en B-bloedgroep-skenkers kan ’n belangrike rol speel in die stabiliteit van die nasionale bloedvoorraad.
- O-negatief is die universele bloedgroep wat in noodgevalle gebruik word.
- B-bloedgroep lewer ’n belangrike bydrae tot die handhawing van gebalanseerde voorraad vir spesifieke pasiëntgroepe.
Die Bloeddiens het egter ook benadruk dat alle bloedgroepe welkom en nodig is.

“Bloed kan nie vervaardig word nie. Dit kan slegs verkry word van mense wat kies om te skenk. ’n Enkele bloedskenking neem ongeveer 30 minute en kan tot drie lewens red,” voeg Schreiner by.
Besoek jou naaste SANBS-bloedskenkersentrum of bloedskenkingspunt om bloed te skenk.
Vir meer inligting, of om jou naaste skenkersentrum of mobiele bloedskenkingspunt op te spoor, skakel die Bloeddiens se tolvrye nommer 0800 11 90 31 of besoek die SANBS webwerf.
- Parysenaars kan Dinsdag 8 September by die Hervormde kerksaal, h/v Loop- en Paulsenstraat bloed skenk tussen 13:00 en 19:00.




