Man betrap met ID’s, paspoorte, geboorte- en doodsertifikate
Die man sal voor die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
‘n Man wat besig was om na bewering besonderhede op ‘n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument te verander, is Maandag 7 September op heterdaad betrap deur lede van die Parkweg Misdaadvoorkomingseenheid
Die polisielede was besig met roetine-patrollies vir Operasie Shanela II toe hulle die man by ‘n kafee opgemerk het.

Naas die identiteitsdokument het hy verskeie ander Suid-Afrikaanse en Lesotho dokumente waaronder paspoorte, identiteitsertifikate, geboorte- en doodsertifikate in ‘n rugsak by hom gehad.
Beëdigde verklarings wat reeds gestempel was, maar nog nie deur ’n polisiebeampte voltooi is nie, is ook in sy besit gekry.
Verdere deursoekings in die Phomolong informele nedersetting het daartoe gelei dat vertroulike DNS-dokumente, dokumente met ’n staatswapen, bankstate en SASSA-beëdigde verklarings ook gekry is. Die dokumente sal deur die Kriminele Rekordsentrum nagegaan word, het die polisie gesê.
Die 43-jarige buitelandse burger het aan beamptes verduidelik dat hy glo besig was om onwettige mynwerkers ook bekend as zama-zamas te help.
Die man is aangekla vir peuter met regsdokumente, die besit van vermoedelike gesteelde eiendom en ’n oortreding van die Immigrasiewet.



