150 Jaar feestelik vir Parys gevier
Maak dit 'n daguitstappie of sommer 'n naweek en kom vier 150 jaar saam met die Vrystaatse juweel.
Parys se hoofstraat sal ‘n mengelmoes van kleur, klank en beweging wees wanneer dié dorp op Erfenisdag, Donderdag 24 September, sy 150ste bestaansjaar met ‘n parade en feestelikheid in Breëstraat vier. Trek aan jou tekkies, sit op jou hoed en kom beleef waarom dié dorp na meer as ‘n eeu steeds een van die land se gewilde toerismedorpe is.
Straatparade
Die feesparade begin om 10:00 en beweeg vanaf die oop veld tussen Unie- en Wesstraat in die rigting van die kruising van Breë- en Father Balinkstraat. Naas veteraan motors, motorfietse en perde, sal verskeie organisasies, gemeenskapsgroepe, kunstenaars, musikante, sportklubs en individue aan die parade deelneem.
Tussen 1100 en 12:00 vertoef die parade tussen Father Balink- en Middelstraat, waar die straat in ‘n verhoog omskep word vir plaaslike talent en kreatiwiteit uit dié pragtige Vrystaatse dorp aan die soom van die Vaalrivier.
Die kunstigheid en verskeidenheid waarvoor Parys bekend is, is deel van die feesprogram en wat jy hier sal beleef met die hartlikheid van dié dorp se mense wat jou sal omarm.

Kom kuier by een van die Parys se vele restaurante, want vir die feestelikheid sal die dorp se sakelui hul besigheid na feesgangers op die sypaadjies bring. Of dit die braaikompetisie by Cherry Square, kultuur-opskop op die oop terrein oorkant Spar, of kunstenaarsoptredes is wat sal roteer by die onderskeie venues. Maak seker jy’s daar, want die feestelikheid gebeur net een keer in 150 jaar.
Selfs vir die kinders is voorsiening gemaak met speelplek oorkant Enstyle.
Een van die hoogtepunte van die feesdag is erkenning wat gegee word aan hulle wat oor jare die dorp help vorm en bou het, want die hart van dié dorp is sy mense.
Die parade sal om 12:00 voortbeweeg en eindig by die oop veld langs die brandweer, maar moenie huiswaarts keer nie. Verskeie stalletjies, die kunstenaarsoptredes, en ander feespret sal deur die loop van die dag by verskeie punte aangebied word soos aangedui op die kaart.

Verkeer herlei:
Verkeer sal vir die duur van die straatparade en feestelikheid in die dorp se hoofstraat, herlei word soos wat die parade beweeg.
Strate wat geraak sal word sluit in:
* Breëstraat
* Loopstraat
* Waterstraat
* Philipstraat
* Schilbachstraat.
Gholfgeleenthede
Twee gholfdae sluit die feestelikheid af en word gehou op 25 September by Vaal de Grace, en 26 September by Parys Golf & Country Estate.
Kontak Parys Info & Tourism by (056) 811 4000 vir meer inligting oor die straatparade, stalletjies, feesaktiwiteite en gholftoernooie.




