Slaggate herstel: Wees bedag op stop/ry-punte
Die herstelwerk sal 'n veilige roete vir deelnemers aan vanjaar se Parys Crater Street Mile virseker.

‘n Span van die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit is tans besig om slaggate in Parys se hoofstraat te herstel spesifiek met die oog op die Parys Crater Street Mile wat gehou word Saterdag 10 Oktober.

Motoriste word gevra om bedag te wees op stop/rypunte waar die span werk, en om dié punte stadig en versigtig te nader. Wees asseblief geduldig tydens vertragings by die punte.



Vanoggend is onder meer herstelwerk gedoen by die kruising tussen die Impak-sentrum en die Pick ‘n Pay-sentrum in Waterstraat, wat al vir jare ‘n groot gevaar veral vir voetgangers ingehou het.
Die span is deel van Ngwathe se Padherstel- en Onderhoudsprogram wat vroeër vanjaar bekendgestel is met 60 mense wat oor ‘n 12 maande periode deur die diensverskaffer, Safeti (South African Foundation for Empowerment, Training & Innovation) opgelei word om hulle met die nodige vaardighede toe te rus om slaggate te herstel.
Die materiaal vir die herstelwerk word ook plaaslike vervaardig.

Parys Crater Street Mile
Inskrywings vir die straatmyl is reeds oop en sal alle deelnemers weer vanjaar met medaljes beloon word.
Die straatmyl begin om 07:15 met die laaste item – die Elite Mans – wat om 09:45 wegspring.
Die straatmyl word aangebied deur Rotary Parys in samewerking met Parys Multisport.

Roete
Die roete van 1 609,4m, die presiese afstand van ‘n myl, is gesertifiseer volgens Wêreld Atletiek, Atletiek SA en Atletiek Vrystaat regulasies, wat beteken dat deelnemende atlete met die straatmyl kan kwalifiseer vir provinsiale, nasionale en internasionale erkenning. Die straatmyl het in 2024 geskiedenis gemaak toe dit SA se eerste Wêreld Geregistreerde Myl geword het. en word dit straatmyl ook op die wêreld atletiekkalender aangedui.
Vanjaar is dit die vierde jaar dat dié gewilde straatmyl waaraan oud en jonk kan deelneem, aangebied word, en sal groot name in atletiekkringe ook weer hier in Parys se hoofstraat in aksie gesien word. Die oogmerk vir vanjaar se straatmyl is 700 deelnemers.
Hoofstraat gesluit vir verkeer op dié tye
Breëstraat sal vir die duur van die straatmyl op Saterdag 10 Oktober tussen 05:00 en 12:00 gesluit wees vir verkeer.
Verkeer sal via alternatiewe strate deur die dorp herlei word vir die duur van die straatmyl.



