Uitsonderlike ruiterkuns en presisie te sien by SA Western Mounted Games in Parys
Die kampioenskap begin Maandag 28 September en eindig Vrydag 2 Oktober.
Die SA Western Mounted Games met 735 ruiter/perd inskrywings uit al nege die land se provinsies, sowel as van Botswana en Zimbabwe sal vandeesbeek sorg vir ‘n aksiebelaaide skouspel by die AfriDome in Parys. Een van die hoogtepunte is die internasionale kragmeting wanneer Suid-Afrika se Proteas en die Britse ruiterspan mekaar die stryd sal aansê.
Die vaardigheid van hierdie ruiters wanneer daar tussen die pale en dromme deurgevleg word is iets om te sien, en is spoed en presisie van die deurslaggewende faktore in die ruiterdissipline.
Die parade en amptelike opening van die kampioenskap word gehou Maandag 28 September om 06:30 en die opening van die internasionale kampioenskap vind plaas Woensdag 30 September ook om 06:30.
Daar word op verskillende bane meegeding. Alle ruiters moet aan verskillende items deelneem tydens die kampioenskappe. Van die items sluit in Barel Racing, Speed Ball, Pole Bending, Keyhole en Figure 8 Flags, en verg besondere vernuf van perd en ruiter wat teen tyd die uitdagings op die baan moet voltooi.
Die kampioenskappe is oop vir die publiek en toegang is gratis. Kom kyk na die ongelooflike ruiterkuns en ondersteun die deelnemers.

Die kampioenskappe begin daagliks om 08:00.
Daar is ook stalletjies op die terrein en eet- en drinkgoed wat te koop aangebied word sowel as ‘n restaurant.
Onthou om jou bestuurslisensie saam te neem vir skandering vir toegang by die AfriDome in Allenbystraat.



