Houtrakette uitgehaal vir 50-jaar viering van dorp se muurbalklub
Die dorp se eerste twee muurbalbane is aanvanklik langs die Mimosa-saal gebou.
2026 is ‘n besonderse jaar vir Parys-muurbalklub. Die klub het Saterdag met die Bell’s-toernooi sy 50ste bestaansjaar gevier.
Vyf dekades van muurbal, kompetisies, vriendskappe, groot oorwinnings, harde wedstryde en natuurlik baie stories langs die baan wat die dag vertel is. Oor die jare was daar ook opvallende veranderings vir die sport met houtrakette waarmee aanvanklik gespeel is, wat moes plek maak vir rakette gemaak van ligter materiaal soos koolstofvesel. Hierdie moderne rakette is heelwat ligter en weeg tussen sowat 90 en 150 gram.

Saterdag is die swaarder houtrakette spesiaal afgestof vir die toernooi wat gesorg het vir ‘n unieke ervaring vir jonger spelers, baie pret op die baan, en vernuf om met diĆ© rakette wat maklik sowat 220g en meer weeg te speel. Die dorp se eerste twee muurbalbane is aanvanklik langs die Mimosa-saal gebou.
Planne vir die bou van die bane is afgeteken deur Hannes de Wet wat saam met dr Piet Swartz van die oorspronklike stigterlede van Parys -muurbalklub in 1976 was. Voordat die dorp sy eie muurbalbane gehad het, moes daar na buurdorpe gery word om te kon speel. In 1990 het die munisipaliteit ‘n sportsentrum opgerig wat bekend geword het as die Parys Buiteklub op wat inwoners vandag ken as die Parys Golf & Country Estate.

So het dit gekom dat die tennis, muurbal en gholfklubs almal van een sentrum af bedryf is.
Parys-muurbalklub het in 1990 van die Mimosa Tuine na die sentrum geskuif en is die muurbalbane op die Parys Golf & Country State weekliks die ene bedrywigheid met kinders sowel as volwasse spelers wat van die fasiliteit gebruik maak vir oefening en toernooie.
Parys-muurbalklub het sedert sy ontstaan hom beywer vir die ontwikkeling van sy junior spelers.’n Belegging wat vrugte afgewerp het met 20 junior spelers van die klub wat oor die afgelope jare hul klub, provinsie en die land verteernwoordig het as Junior Proteas.
Een van die juniors, Tenille Swartz, het later ook Suid-Afrika op senior vlak verteenwoordig en was sy nie net SA se nommer 1 damesspeler nie, maar ook onder die top 30 spelers internasionaal.
Parys-muurbalklub se spelers het oor jare ook altyd sterk na vore getree in die Vaaldriehoek liga. Een van die hoogtepunte was in 2023 toe Parys die Vaaldriehoek eerste liga en reserwe liga gewen het.
Parys speel tans in die Noordwes-liga en is ook hier besig om naam te maak.



