Bom bars vir Ngwathe ná hofbeslissing oor munisipale bestuurder
Herhaalde skriftelike waarskuwings van die LUR is geignoreer.
Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. Futhuli. Mothamaha, se regsverteenwoordiger, Peyper Attorneys, sal Maandag 5 Oktober ‘n aansoek om verlof tot appèl bring teen die uitspraak in die Vrystaatse Hoë Hof Vrydag 2 Oktober, toe regter van Rhyn, bygestaan deur waarnemende regter Khuduga, onomwonde beslis het dat die Ngwathe-munisipale raad se vroeëre besluit om Mothamaha as munisipale bestuurder aan te stel, irrasioneel, ongeldig en nietig was.
Die bom het vir Ngwathe gebars nadat die LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings in die Vrystaat, Saki Mokoena, die aanstelling in die hof betwis het.
Mothamaha is op 1 Augustus 2024 as munisipale bestuurder aangestel nadat hy sedert Mei 2024 by die munisipaliteit waargeneem het as munisipale bestuurder.
Volgens die hofuitspraak het die LUR reeds in Julie 2024 beswaar gemaak teen Mothamaha se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder, en toe die burgemeester versoek om ’n raadsvergadering te belê om sy aanstelling te heroorweeg.
Die LUR het ook volgens die hofstukke sy kommer uitgespreek oor Mothamaha se vorige dienstermyn by die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit, waar hy voorheen as munisipale bestuurder gedien het.
Die hof het verwys na ’n vorige uitspraak waarin Mothamaha se aanstelling by dié munisipaliteit en sy dienskontrak onwettig en onreëlmatig verklaar is. Die hof het destyds ook bevind dat die salaris wat hy ontvang het, ten volle verhaalbaar was.
Die huidige hofsaak het ook betrekking gehad op ’n verslag van die Ouditeur-Generaal oor wesenlike onreëlmatighede tydens die 2020/2021-oudittydperk by Maluti-a-Phofung.
Die hof het bevind dat die LUR ernstige en dringende bedenkinge oor Mothamaha se integriteit en bevoegdheid gehad het, en dat hierdie inligting aan die Ngwathe-raad bekend gemaak moes gewees het voordat die aanstelling goedgekeur is.
Volgens die uitspraak sou die raad, indien die munispaliteit se uitvoerende burgemeester, Victoria de Beer-Mthombeni, die LUR se ernstige besware aan die raadslede oorgedra het, dit in ag kon neem en Mothamaha se geskiktheid vir die pos heroorweeg het.
Waarskuwings geïgnoreer
Ná sy aanstelling as LUR het Mokoena op 4 Julie 2024 ’n brief aan die burgemeester gerig waarin hy aangedui het dat hy Mothamaha as waarnemende munisipale bestuurder terugroep, ingevolge die bepalings van artikel 54A(6) van die Wet op Munisipale Stelsels.
In ’n verdere brief op 22 Julie 2024 het die LUR, met verwysing na die dringende en ernstige stand van sake by die munisipaliteit, die speaker versoek om ’n raadsvergadering te belê om Mothamaha as waarnemende munisipale bestuurder te verwyder.
Die LUR het gewaarsku dat indien die raad nie aan sy opdragte gehoor gee nie, regstappe ingestel sou word. Raadslede wat ten gunste van Mothamaha se aanstelling stem, sou ook persoonlik vir die regskoste aanspreeklik gehou kon word.
Op 24 Julie 2024 het die De Beer-Mthombeni, in haar antwoord aangedui dat die munisipaliteit weens hangende litigasie, institusionele onstabiliteit, AfriForum se oorname van die munisipaliteit se bestuur en die implementering van sekere projekte nie in ’n posisie was om ’n drastiese besluit oor Mothamaha te neem nie.
De Beer-Mthombeni het ook aangedui dat hierdie omstandighede die vertraging veroorsaak het, maar dat ’n raadsvergadering mettertyd belê sou word.
Ondanks die LUR se besware het die raad voortgegaan om Mothamaha as munisipale bestuurder aan te stel, met ingang 1 Augustus 2024.
Verdere korrespondensie het vanaf 23 Augustus 2024 gevolg waarin die LUR die redes uiteengesit het waarom hy Mothamaha se aanstelling as munisipale bestuurder betwis.
Die LUR se gronde vir die hofaansoek
Die LUR het van meet af aan gewaarsku dat indien die raad nie aan sy opdragte gehoor gee nie, regstappe ingestel sou word. Raadslede wat ten gunste van Mothamaha se aanstelling stem, sou ook persoonlik vir die regskoste aanspreeklik gehou kon word.
Kostebevel
Die hof het nie net die raad se besluit om Mothamaha as munisipale bestuurder aan te stel irrasioneel, ongeldig en nietig, verklaar nie, maar ook gelas dat die respondente gesamentlik en afsonderlik die regskoste van die aansoek moet betaal, insluitend die koste van senior en junior advokate. Die respondente word in volgorde op hofstukke aangedui as die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, die Ngwathe Raad, Dr. Futhuli Mothamaha en Victoria de Beer-Mthombeni, wat voor die ontbinding van die munisipale raad as uitvoerende burgemeester van Ngwathe gedien het.
Die aansoek om sekere gedeeltes van die LUR se beëdigde verklaring te laat skrap, is verder ook met koste van die hand gewys.
Gazette het die Ngwathe Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale om kommentaar genader, en sal kommentaar bygewerk word sodra dit ontvang word.
AfriForum reaksie
AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, Alta Pretorius, het vanoggend, in kommentaar op die hofuitspraak gesê dat dié burgerregte organisasie dankbaar is dat die wiel begin draai in die guns van geregtigheid.
Pretorius het die hoop uitgespreek dat die administrateurspan wat ingevolge ‘n hooggeregshofbeslissing in die guns van AfriForum gegee is vir provinsiale ingryping by die munisipaliteit, nou die geleentheid sal hê om hulle werk te doen en die vorderingverslag vir die hof, waaroor AfriForum se regsspan ‘n aanmaning gestuur het, nou sal voorlê.
In die aanmaning is die provinsie tyd tot 16 Oktober gegee om die vorderingsverslag by die hof in te dien om te voldoen aan die hofbeslissing wat bepaal het dat daar driemaandeliks in die hof verslag gedoen moet word, oor die intervensie span se vordering om Ngwathe se sake in orde te kry.
“As al die geld wat onregmatig verkwis is, vir dienslewering aangewend sou word, sou daar ‘n ander prentjie in al die dorpe gewees het. Die wiele van geregtigheid draai stadig, maar hulle draai! Ons kyk vorentoe en ons steek steeds ‘n helpende hand na Ngwathe uit,” het Pretorius gesê.
Appèlproses se maandelange vertraging
Die gevolg van ‘n uitgerekte hofstryd weens appèlaansoeke is ook verlede jaar gesien met AfriForum se aansoek om provinsiale intervensie wat reeds in Desember 2024 gebring is. Ná regter JP Daffue se omtrede beslissing vir onmiddellike provinsiale ingryping by Ngwathe in Junie 2025, kon die bevel eers ‘n jaar later tot uitvoer gebring word weens die herhaalde aansoeke om appèl teen die beslissing wat Ngwathe eerste na die Vrystaatste hooggeregshof, die Appèlhof en uiteindelik die Konstitusionele Hof gebring het. Telkens met ‘n kostebevel vir Ngwathe.
Die pad vorentoe
In die lig van die aansoek om appèl teen regter Van Rhyn se beslissing vandeesweek in die guns van die LUR van COGTA oor die aanstelling van Mothamaha, sal die uitvoer van die beslissing nog eens in die lig van die aansoek vertraag word.
Sonder die aansoek sou daar na alle waarskynlikheid ‘n tussentydse aanstelling gemaak moes word totdat die pos geadverteer en ‘n aanstelling gemaak kon word.
Administrateurspan
In ‘n skiellike en ingrypende verwikkeling het die LUR van COGTA, Saki Mokoena, Woensdag drie maande nadat die Ngwathe Raad ingevolge regter Daffue se beslissing ontbind is, en dr. Solly Motingoe as administrateur vir Ngwathe aangestel is, Motingoe se hand versterk met ‘n sterker administrateurspan, gelei deur adv Thupa, met dr. Masithela as assistent-administrateur.
Hofsaak
Mothamaha moet ook in Desember voor die hof verskyn op beweerde klagtes van bedrog, diefstal en oortreding van die Munisipale Finansiële Wet wat spruit uit R1,9m wat na wat beweer word verdwyn het uit die Maluti-a-Phofung begroting in 2021, het Valke-woordvoerder luitenant-kolonel Mohobeleli, vroeër bevestig.



