Tonne lemoene word ’n vrag omgee
En iewers tussen ’n vrag lemoene en ’n geskenk van groente het die dag se mooiste boodskap duidelik geword: daar is altyd iets wat ons met mekaar kan deel.
’n Boer se ruim skenking, vennote wat die vervoer betaal en ’n gemeenskap wat moue oprol. Só het tonne lemoene op 29 September by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek Derdepoort aangekom en van daar hul pad na bejaardes, kinders en gesinne in nood gevind.
BJ Blyde het altesaam 32 ton lemoene geskenk, terwyl DKI Global en DKI Fruit Marketing die vervoerkoste gedra het. Ons Plek Derdepoort in Pretoria se Moot-gebied het as aflaai- en verspreidingspunt gedien, en kort voor lank was daar gewillige hande wat gehelp het om af te laai en bakkies en trokke vol te pak.
Agter die skenking lê ’n moeilike werklikheid. Volgens die skenkers het die oorlogsituasie in die Midde-Ooste uitvoermarkte en verskepingsopsies nadelig geraak. Hoër vervoerkoste, brandstoftoeslae, oorlogsrisikoversekering en bykomende oorlaaikoste maak uitvoer in sommige gevalle ekonomies onhaalbaar.
Die plaaslike mark en sapfabrieke kan volgens hulle nie al die vrugte absorbeer wat nou nie uitgevoer word nie. Sitrus van goeie gehalte het gevolglik min afsetopsies.
“Ons probeer om ten minste ’n deel daarvan in hande te plaas wat dit nuttig kan gebruik,” verduidelik die skenkers.
By Derdepoort was daar juis sulke hande.
Tehuise vir bejaardes, jeugsentrums, CMR, plaaslike kerke, kleuterskole en rehabilitasiesentrums het lemoene kom afhaal om verder te versprei waar die behoefte groot is. Plaaslike sekuriteitsmense het ook kom afhaal vir gesinne in die omgewing van wie se nood hulle bewus is.
Margolé Riekert, hoof van projekte by Helpende Hand, sê elkeen se bydrae het die skenking verder help dra.
“Ons is opreg dankbaar teenoor BJ Blyde vir die lemoene en teenoor DKI Global en DKI Fruit Marketing vir die vervoer. En dan is daar die mense wat opgedaag en kom help het. Elke voertuig, elke paar hande en elke instansie wat verder versprei het, het ’n aandeel daarin dat hierdie vrugte by mense in Helpende Hand se voedselketting kan uitkom.”
Die dag het ook ’n mooi verrassing opgelewer: een kerk het lemoene kom haal en Ons Plek Derdepoort op sy beurt met aartappels, uie en botterskorsies geseën.
“Dit laat ’n mens glimlag,” sê Riekert. “Hulle het kom ontvang, maar ook iets saamgebring om te deel. Dis die soort omgee wat ’n gemeenskap sterk maak: mense wat raaksien waar hulle kan help en dan eenvoudig inspring.”
En met lemoene wat ook na tehuise vir bejaardes geneem is, vermoed Riekert daar wag dalk nog ’n soet verrassing.

“Ek kan nie wag om te sien wat die bejaardes met die lemoene gaan optower nie. As daar lemoenskil in ’n baksel hertzoggies beland, meld ek graag aan om te kom proe!” skerts sy.
Vir die organiseerders was dit besonders om te sien hoe mense saamwerk om die vrugte verder te versprei. Die skenking het by ’n produsent begin, met vennote se hulp gereis en deur ’n gemeenskap se hande sy bestemming bereik.



