Ngwathe onder toenemende druk: AfriForum eis ondersoek
AfriForum eis dat alle bewerings ondersoek moet word.
Die burgerregte organisasie AfriForum eis ’n dringende onafhanklike ondersoek na die groeiende aantal ernstige bewerings van finansiële en bestuursongerymdhede by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit waarvan die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville deel is. Dié oproep kom te midde van bewerings wat in sekere mediabronne die afgelope week gemaak is rakende die munisipaliteit se voormalige uitvoerende burgemeester Victoria de Beer-Mthombeni en haar man se beweerde betrokkenheid by ’n multimiljoenrand tender-afpersingskema wat nou deur die Valke-ondersoek word, het AfriForum vandag in sy verklaring gesê.
Verskeie ander kwessies – insluitende ’n hofuitspraak waardeur die munisipale bestuurder se aanstelling ongeldig verklaar is; die munisipaliteit se versuim om betyds ingevolge ’n hofbevel verslag te doen; en kommerwekkende bevindings deur die ouditeur-generaal (OG) – wys reeds volgens die organisasie moontlik op ernstige ongerymdhede wat ondersoek moet word.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek, moet dié bewerings dringend en sonder politieke of administratiewe inmenging ondersoek word.
Dit kom boonop kort nadat die Vrystaatse Hooggeregshof op 2 Oktober die Ngwathe- munisipale raad se aanstelling van Futhuli Patrick Mothamaha as munisipale bestuurder irrasioneel, ongeldig en nietig verklaar het. Mothamaha het aangedui dat hy aansoek om verlof tot appèl gaan doen.
“Dit is moeilik om te aanvaar dat nóg openbare geld aan litigasie bestee kan word om ’n aanstelling te probeer verdedig wat die hof reeds tersyde gestel het, terwyl die munisipaliteit se inwoners daagliks met gebrekkige dienslewering saamleef. Openbare geld behoort tot voordeel van die gemeenskap aangewend te word,” sê Pretorius.
AfriForum is verder ernstig bekommerd dat die eerste verslag wat ingevolge die hofbevel oor die ingryping by die munisipaliteit ingedien moes word, steeds nie aan die hof voorgelê is nie. AfriForum se regspan het die verantwoordelike partye reeds hieroor aangemaan.
Pretorius voer verder aan dat die OG se aankondiging, in November verlede jaar, dat die munisipaliteit in die 2024/2025-boekjaar meer as R105 miljoen se vrugtelose en verkwistende uitgawes en meer as R143 miljoen se ongemagtigde uitgawes aangeteken het, ook in berekening gehou moet word wanneer die mislukkings van die munisipaliteit ondersoek word.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, hou vol dat wanneer die hof, die OG en nou ook ’n Valke-ondersoek ernstige vrae oor verskillende aspekte van plaaslike bestuur laat ontstaan, kan inwoners nie met nóg verskonings tevrede wees nie. “Elke geloofwaardige bewering moet ondersoek word en waar bewyse van oortredings bestaan, moet die verantwoordelike persone aanspreeklik gehou word – ongeag hul posisie of politieke verbintenis,” verduidelik hy.
“Die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit het nou lank genoeg gelei onder swak leierskap. Dit is tyd vir geregtigheid en verantwoording,” meen Pretorius.



