Munisipale verkiesing: Enkele ure oor voor spertyd vir waarnemers-akkreditasie
Annsoeke vir akkreditasie sluit om 23:59 vanaand.
Met aansoeke vir spesiale stemme vir die komende munispiale verkiesing wat vanmiddag, Maandag 12 Oktober om 17:00 gesluit het, is die tyd ook vinnig besig om uit te loop vir akkreditasie as waarnemers tydens die munisipale verkiesing. Aansoeke vir waarnemers akkreditasie sluit vanaand om 23:59. Geen nuwe aansoeke sal na die spertyd aanvaar word nie.
Die burgerregte organisasie AfriForum het vanjaar 90 waarnemers by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer om die komende plaaslike verkiesings regdeur die land by te woon.
Waarnemers word opgelei om sekere take by stemlokale uit te voer om te verseker dat die verkiesing seepglad en regverdig verloop.
Hierdie waarnemers moet ’n ogie hou oor die stemproses, die tel van stemme by die stempunt en die kontrolering van finale stemme. Hulle kan kom en gaan soos hulle wil, notas neem, met kiesers praat en boekhou van uitslae, en moet ná afloop van die verkiesing ’n verslag met hul bevindinge by die OVK indien.
Waarnemers dra ook ‘n beffie waarop observer staan sodat hulle maklik uitgeken kan word.
AfriForum het in 2014 die eerste keer aansoek vir akkreditasie vir waarnemers gedoen en het sedertdien met elke plaaslike en nasionale verkiesing waarnemers gehad.



