Onderwyser steeds soek ná kapingsdrama
Die onderwyser se motor, selfoon en ander items is intussen gevind.
‘n Welkomse onderwyser is steeds soek nadat hy Sondag 4 Oktober oënskynlik tydens ‘n motorkaping ontvoer is.
Sersant Palesa Thabana sê die 55-jarige Gert Adams het sy vrou telefonies gekontak voordat die oproep skielik beëindig is. Hy is daarna as vermis aangemeld.
Adams se grys Hyundai ix35 is twee dae na die kaping op Dinsdag 6 Oktober in Klippan, Welkom, verlate gevind Sy selfoon en ander items was nog in die voertuig.
Thabana sê ook die motief vir die beweerde ontvoering is op hierdie stadium nog onduidelik.
Die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade (SVC) in Welkom ondersoek ’n klag van beweerde motorkaping en ontvoering. Die ondersoek duur voort.
Die soektog na die slagoffer en moontlike verdagtes vorm deel van die voortgesette ondersoek.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help om na vore te kom. Speurdersersant Tsie Matlokotsi van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade in Welkom kan by 078 758 5658 gekontak word.
Die publiek kan ook die Misdaadstopnommer 08600 10111 skakel of anonieme inligting deur die MySAPS-toepassing deurgee.
Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.
Einde



