Vonke spat toe 2 500 skaaptjops sorg vir nuwe massabraai-rekord
Die eerste massabraai is in 2025 gehou, toe Buffelsfontein 2 300 tjops geskenk en gebraai het
Talle mense agter die vure, ’n ry van 100 braaiers wat 100 meter ver strek en 2 500 skaaptjops gelyktydig op die kole.
Só het HelpJag se massabraai Donderdag by die Ons Plek Derdepoort-naskoolsentrum in Pretoria gelyk. Boerboel Wear het die vorige jaar se rekord van 2 300 tjops verbeter nadat Buffelsfontein Brandewyn en Baardolie dié onderneming uitgedaag het om dit te doen.
Selfs bekendes het saam met die gemeenskap kom braai, onder wie die musiekgroep Jan Jan Jan, Ichnus Wait, Ruan du Toit en Liezel Pieters.
Die doel van die dag was om mense in nood met ’n lekker skaaptjoppie te bederf. “Van ons ouer mense sê hulle het twee jaar laas ’n luukse soos ’n skaaptjoppie gehad,” sê Margole Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand.
Die kinders van Ons Plek Derdepoort het eerste geëet. Daarna is die oorblywende tjops verpak vir kinderhuise, skole wat by Helpende Hand se Kosblikkie-projek baat vind, ouetehuise en tehuise vir persone met gestremdhede in die omgewing.
Die massabraai ondersteun Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-inisiatief, wat jagvleis vir Helpende Hand se voedingskemas landwyd insamel. Dit sluit die Kosblikkie-projek in.

Die eerste massabraai is in 2025 gehou, toe Buffelsfontein 2 300 tjops geskenk en gebraai het. Meyer le Roux van Buffelsfontein het Boerboel daarna uitgedaag om vanjaar se vleis te voorsien. Boerboel het die uitdaging aanvaar en al die skaaptjops vir Donderdag se braai geskenk.
Nou is dit die kykNET-program, OntbytSAKE, se beurt. Die onderneming het Meyer se uitdaging aanvaar om volgende jaar 3 200 tjops te skenk en Boerboel se rekord te probeer verbeter.
Riekert sê die massabraai gaan nou ’n jaarlikse instelling wees op Helpende Hand se kalender.

“Ek is opgewonde om te sien hoe ons groter kan groei en nog meer mense met tjoppies kan bederf,” sê sy.



