Optrede ge-eis teen stygende veediefstal in die Vrystaat
Boere spandeer reeds miljoen aan privaatskeuriteit en kamerastelsels om hul vee te beveilig.
Meer as 1 600 beeste en 730 skape is die afgelope maand in die Vrystaat gesteel, met ’n geraamde waarde van sowat R8 miljoen. Die syfer weerspieël egter nie die ware omvang van die verlies nie, waarsku die Vf Plus.
Die party sê die polisie se waarskuwing en veiligheidswenke na aanleiding van die skerp styging in veediefstal in die provinsie is nie genoeg nie.
“Boere doen reeds alles in hul vermoë en bestee miljoene aan privaatsekuriteit en kamerastelsels om hul vee te beskerm. Dit is die staat se verantwoordelikheid om misdaad te voorkom en diewe vas te trek – iets wat tans duidelik nie doeltreffend gebeur nie,” het die party Maandag, 19 Oktober, in ‘n verklaring gesê.
“Selfs jong speenkalwers en goedkoper skape sou saam minstens R15 miljoen werd wees. Indien teeldiere, dragtige verse of bulle onder die gesteelde diere was, is die werklike verlies aansienlik hoër. Die emosionele én finansiële impak op boere kan ook nie bloot in geldwaarde gemeet word nie.”
Die VF Plus wil die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, mnr. Jabu Mbalula, versoek om bekend te maak hoeveel veediefstalsake die afgelope twaalf maande aangemeld is en hoeveel daarvan tot inhegtenisnemings en suksesvolle vervolgings gelei het.
Die party sê ook dat sommige boere nie veediefstal aanmeld nie, omdat hulle deur die owerhede in die steek gelaat word. Daarom eis die party nou ’n vergadering met die departement oor die toepassing van die landelike veiligheidstrategie.



