Local newsNews

Staatsingryping ge-eis ná wrede plaasmoorde en -aanvalle in Noordwes en Dewetsdorp

Die bloedvergieting op plase en in die landelike gebiede vereis dringende en volgehoue optrede sê Vrystaat Landbou

Vrystaat Landbou (VL) sê hy veroordeel die onlangse plaasmoorde en -aanvalle, veral in Noordwes, ten sterkste. Die moord op Hannetjie van Zyl buite Ottosdal en die brutale aanval op Donovan Marx tussen Potchefstroom en Ventersdorp beklemtoon die ernstige bedreiging waaronder landelike gemeenskappe leef.

Hannetjie van Zyl is met ‘n ysterpyp aangerand toe sy gestop het om ‘n plaashek oop te maak en is onderweg na die hospitaal oorlede. Donovan Marx is verlede week op sy plaas by Syferfontein in die Ventersdorp-distrik, oorval en in die bolyf geskiet, waarna hy ook met ‘n mes gesteek en beide sy ore afgesny is. Hy is steeds in die waakeenheid van ‘n Potcherfstroomse hospitaal.

Vrystaat Landbou sê benewens hierdie voorvalle het die tipe geweld waarmee ‘n opkomende boer en twee plaaswerkers binne ’n ses weke periode tussen September en Oktober in Dewetsdorp vermoor is, die hele landbougemeenskap geraak. Die Dewetsdorp moorde word gekoppel aan veediefstal.


Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het benadruk dat alle boere, plaaswerkers en hul gesinne, asook bewoners op plase en kleinhoewes almal die reg het om veilig te woon en te werk.

Wilken het bygeoeg dat Vrystaat Landbou die Minister van Landbou, Willie Aucamp, se beroep om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te hanteer ondersteun en daarop aandring dat plaasmoorde én plaasaanvalle uitdruklik geprioritiseer word. “Die regering moet sy erns bewys deur voldoende hulpbronne, vinnige polisiereaksie, deeglike ondersoeke en
suksesvolle vervolging daar te stel.” sê Wilken.

Vrystaat Landbou eis:

  • Toegewyde ondersoekspanne, ondersteun deur misdaadintelligensie en forensiese kundigheid.
  • Behoorlik toegeruste landelike polisiestasies, met voldoende personeel, voertuie en betroubare kommunikasie.
  • Daadwerklike uitvoering van die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS), in samewerking met landboustrukture en plaaswagte.
  • Daarstel van Landelike Beveiligings eenhede wat uit burgerlikes sal bestaan wat die misdaad voorkomings-pogings in landelike gebiede sal versterk.
  • Gereelde terugvoer en ondersteuning aan slagoffers en hul families.

VL het ook versoek dat die ministers van Landbou en Polisie binne 30 dae ’n gesamentlike uitvoeringsplan bekend maak, met duidelike verantwoordelikhede, hulpbronne en sperdatums.


‘n Onlangse opname wat deur Vrystaat Landbou op 25 Oktober 2026 gedoen is, dui aan dat 47% van Vrystaatse grensplase na bewering deur Basotho-burgers oorgeneem is, deur eienaarskap, huurooreenkomste, onwettige immigrasie en/of onwettige weiding. Volgens die organisasie wek hierdie omstandighede rnstige kommer oor gepaardgaande
grensoorskrydende kriminele aktiwiteite.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, waarsku ook dat hierdie situasie ‘n beduidende veiligheidsrisiko inhou, nie net vir grensplase en hul omliggende boerderygemeenskappe nie, maar ook vir aangrensende landbougebiede.


“Die Dewetsdorp-gemeenskap het jare lank kommer uitgespreek oor die teenwoordigheid van onwettige Basotho-burgers in die gebied en die gepaardgaande risiko’s van geweldsmisdaad en eiendomsverwante oortredings, veral veediefstal. Hierdie kommer kan nie voortgaan om geïgnoreer te word nie. Landelike veiligheid moet aangespreek word as ‘n breër nasionale en grensoorskrydende misdaadvoorkomingsprioriteit,” sê Le
Roux.

“Die bloedvergieting op plase en in die landelike gebiede vereis dringende en volgehoue optrede. Boere en plaaswerkers se lewens kan nie langer die prys van gebrekkige uitvoering wees nie,” het Wilken gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button