Vyf môre voor die hof ná wrede aanval waarin boer se ore afgesny is
Die verdagtes is oor die naweek gearresteer.
Die vyf verdagtes wat oor die naweek gearresteer is vir die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx, sal môre, Dinsdag 3 November voor die hof in Ventersdorp verskyn op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Marx se voertuig asook vuurwapens waarvan twee van die vuurwapens verbind word met verlede Woensdag se roof en aanval op Marx op die plaas by Syferfontein buite Ventersdorp, is ook intussen teruggevind.
Die verdagtes is vasgetrek ná intensiewe ondersoek- en operasionele werk, het kolonel Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes gesê.
Die polisie het vroeër bekendgemaak dat die aanval omstreeks 08:30 Woensdagoggend 28 Oktober plaasgevind het toe gewapende mans wat klapmusse gedra het, van agter die plaashuis te voorskyn gekom en hul vuurwapens op een van die plaaswerkers gerig het wat besig was om gras te sny. Hy is met kabelbinders vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe Marx met sy enkelkajuit Isuzu-bakkie by die huis kom, is twee van die verdagtes na hom toe en is hy in die bolyf geskiet.

Sy aanvallers het hom daarna die huis binnegesleep, sy hande en voete met kabelbinders vasgebind en is hy tydens die marteling onder meer ook met ‘n mes gesteek.
Die verdagtes het die huis deursoek en drie vuurwapens uit ’n kluis geneem voordat hulle met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het.
Die vyf verdagtes is tussen die ouderdomme van 26 en 56 jaar.
Marx is steeds in die waakeenheid van ‘n Potchefstroomse hospitaal. Die koeël het deur sy nier beweeg, terwyl ’n besering aan sy dikderm genoodsaak het dat ’n gedeelte daarvan chirurgies verwyder word. Hy het ook ’n messteekwond aan sy been opgedoen.
Sy ore kon nie chirurgies gered word nie. Die moontlikheid van prostetiese oorrekonstruksie kan in die toekoms oorweeg word, afhangend van verdere mediese evaluering en sy herstel.



