Wesstraatpyplyn: Vrae nog nie beantwoord nie
Ngwathe se munisipale oorsigkomitee, MPAC (Municipal Public Accounts Committee, het toe nie soos beplan, verlede Donderdag vergader nie (Gazette, 26 April).

MPAC is ’n munisipale oorsigkomitee met die opdrag om vermeende onreëlmatighede te ondersoek, wat insluit tenders, kontrakte, aankope, en betalings.
Die komitee sou verlede Donderdag bymekaarkom op versoek van DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, die enigste opposisielid op die MPAC.
Hy sê hy en rdl Saal de Jager (Wyk 12-raadslid) het talle vrae oor die beplande addisionele rioolpyplyn vanaf Tumahole na die rioolaanleg wes van die ou begraafplaas, hoewel hulle nie daarteen gekant is nie.
“Die kontrakteurs is reeds op die terrein, maar daar was vooraf geen openbare deelname nie.” Rdl. Schoonwinkel sê volgens wet moet die publiek vooraf geken word. “Dis nodig veral hier omdat blykbaar beplan is dat die pyplyn Wesstraat sal volg, wat enorme ontwrigting vir inwoners sou meebring.” Hy sê die omgewingskonsultant van die projek het skriftelik teenoor hom erken dat wetsvoorskrifte verontagsaam is. Rdl. Schoonwinkel sê hy en rdl Saal de Jager wil onder meer weet hoekom niemand daaroor ingelig is nie, wie daaroor besluit het, kwessies met die kontrak self, en veral waarom Wesstraat daarvoor gekies is. Daarom is die MPAC-vergadering aangevra wat nie gebeur het nie, en waarvoor ook nie redes verskaf is nie. By Gazette se ter perse gaan was daar steeds geen antwoorde nie.



