Isolasie inspirasie: Sien elke dag as ’n tree in die regte rigting
Isolasie inspirasie: Sien elke dag as ’n tree in die regte rigting

‘n Paar jaar gelede het ek en my seun die gesprek gehad oor tyd. Hy het vir my gesê: “Mamma weet, die enigste ding wat regverdig is in die lewe is tyd”.
Dit maak nie saak wie jy is of wat jy doen in jou lewe nie. Die horlosie gaan vir niemand stilstaan, of ekstra ure gee nie. Almal se dag het presies dieselfde aantal ure in. Wat wel die verskil maak, is wat gebeur in elkeen van ons se lewens in hierdie tyd.
Die afgelope paar weke het ons almal een ding in gemeen gehad, en dit was die onsekerheid oor wat in hierdie TYD met ons gaan gebeur.
In die begin was dit: is die maatreëls nie te gou ingestel nie? Wat gaan ons elke dag met onsself by die huis aanvang?
Wat gaan gebeur met die land se ekonomie na 21 dae, en toe nog 14 dae, en die einde is dit nie.
Die lewe het egter nie gaan stilstaan nie. Ons het in baie artikels en video’s gesien dat die natuur weer nuwe lewe gekry het. Mense het selfs ‘n plan gemaak om te trou. Ons familie is geseën met twee nuwe babas, en ons het die hartklop van ons derde kleinkind vir die eerste keer gehoor.
Daar was en is elke dag hoop vir ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe begin. Vergeet van wat was, ‘of as dit maar’, onthou die gesegde van ‘as is verbrande hout’. Wat was, gaan nooit weer wees nie. Begin ‘n hoofstuk op ‘n skoon bladsy en as jy moet, begin ‘n nuwe boek.
Suid-Afrika gaan nou in ‘n nuwe hoofstuk in. Moenie die tyd probeer aanjaag nie. Ons het geen beheer oor die mense om ons nie, maar ons het verseker beheer oor hoe ons as persoon dinge gaan hanteer.
As elkeen van ons besluit om verantwoordelik te wees en te doen wat ons moet doen vir nou, kan dinge beter raak.
Elke dag moet met baba tree hanteer word. Klein veranderinge, soos die sekondewyser op die horlosie.
Die regering het stap vir stap uiteengesit hoe die land weer aan die gang gaan kom.
Of ons nou hou van die plan of nie – dit is hoe dit gaan wees.
Met elke fase is daar nuwe uitdagings en nuwe risiko’s, en ongelukkig is ons as mens nie die geduldigste skeppings nie. As ons oorhastig gaan raak, gaan ons weer van voor af moet begin, en in plaas van vorentoe beweeg bly ons spartel op een plek, of beweeg ons dalk selfs agteruit.
Wanneer dit jou beurt is om terug te gaan werk toe, of dit tyd raak vir ons kinders om terug te gaan skool toe, moet ons gehoorsaam wees en by die reëls hou.
Moenie jouself slim hou en later jammer wees oor jou dom besluite nie, of iemand anders die skuld gee vir die nare nadraai van jou eie keuses nie.
Sien hierdie tydvlak waarin almal nou is so – gaan jy ‘n pasgebore baba op die grond sit en sê – ‘daarsy boetie stap bietjie rond’, NEE! Jou intellegente reaksie is, NEE. Jy weet dit gaan gebeur op sy tyd en ek en jy het geen dag en datum van wanneer dit gaan gebeur nie. Sien jou nuwe normaal as hierdie baba. Doen wat jy moet doen vir nou en sien elke dag as ‘n tree in die regte rigting om sterker en wyser anderkant uit te kom.





