VS stortingsterreine nie op standaard nie, sê AfriForum
Die organisasie sal ook sy ouditverslag aan die Groen Skerpioene oorhandig vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie.

“Geen vullisstortingsterrein in die Vrystaat voldoen aan nasionale standaarde nie.” So sê AfriForum wat vanjaar 135 stortingsterreine landwyd geoudit het as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van stortingsterreine in Suid-Afrika te meet.
Geen van die 25 Vrystaatse stortingsterreine wat geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen nie, sê die organisasie wat aan Parys se stortingsterrein ’n persentasie van 8% in 2018 toegeken het, 16% in 2019 en 8% vanjaar. Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir stortingsterreine in Suid-Afrika meet, en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Stortingsterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.
Volgens JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, kon slegs twee van die 28 terreine in die Vrystaat wat besoek is, meer as 50% behaal. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan swak bestuur deur munisipaliteite, asook regulasies en wette wat nie toegepas word nie, sê Nel. In sommige gevalle is daar terreine wat glad nie in stand gehou word nie, en waar vullis vir kilometers buite die terrein rondlê. Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. “Die meeste terreine het ook nie die nodige personeel om dit te bestuur nie en daar is feitlik geen toegangsbeheer nie, wat veroorsaak dat byna enigiets daar gestort word. Die gebrek aan toegangsbeheer veroorsaak ook dat mense op die terreine woon.” AfriForum-takke wil druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter.
Die organisasie sal ook sy ouditverslag aan die Groen Skerpioene oorhandig vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie.





