Beurtkrag en die aandklokreël hou kabeldiewe nie tuis nie
Beurtkrag en die aandklokreël hou kabeldiewe nie tuis nie

In geskeduleerde beurtkragtye en wanneer die munisipaliteit eindelose probleme op sy kragnetwerk het. Dit is dan wanneer kabeldiewe op hul besigste is.
Selfs helder oordag!
Dit was ook een van die redes waarom verbruikers Woensdagaand nog tot laat sonder krag was nadat kabeldiewe tydens geskeduleerde fase 2 beurtkrag op die h/v Tweedelaan en Delverstraat toegeslaan het.
Die diefstal van oorhoofse elektriese kabels is steeds ‘n enorme probleem in Parys wat nie net ure se ongerief vir inwoners veroorsaak nie, maar ook die munisipaliteit derduisende kos aan skade as gevolg van dié misdaad.
Boonop kan daar nie voorgebly word met herstelwerk aan die kragnetwerk wat weens verouderde infrastruktuur en gebrekkige instandhouding oor jare reeds broos is.
Die grootste probleem sê Wynand Nel van We Care, is dat wanneer elektrisiteitstoevoer herstel word, daar gereeld dele is waar die krag nie aankom nie, meestal weens kabeldiefstal.



Daar word dan later eers vasgestel dat die kabels gesteel is.
Omdat die krag af is, word ook nie dadelik agtergekom dat kabeldiewe êrens bedrywig is nie. Nog ‘n groot probleem is kabels wat deur boomtakke loop. Sodra die wind waai word die kabels afgeruk wat mense ook dikwels onder die indruk laat dat die kabels gesteel is.
Naas kabeldiefstal is twee van die dorp se mini-substasies totaal weens vandalisme vernietig.
Sou jy enigiets verdag by die kraglyne sien, moet jy asseblief onmiddellik vir We Care op hul WhatsApp-groepe in kennis stel, vra die munisipaliteit.
Dit is nou meer as ooit nodig dat die publiek die oë en ore sal wees om te help om misdadigers vas te trek.




