Vir Cor Lourens sou Maandag ‘n doodgewone werksdag wees, behalwe dat hy nie by sy tuiskantoor sou wees nie, maar vroeg in Johannesburg moes wees vir ‘n vergadering by sy maatskappy se kantore. Cor het die oggend van sy huis by Vaaloewer gery en sou deur Vereeniging na Johannesburg ry. Op die R42 in Barrageweg het hy by die verkeerslig by Pick n Pay Bedworthpark gestop, en gewag dat die verkeerslig groen oorslaan. ‘n Wit Ford Everest met ‘n Gauteng registrasienommer het langs hom gestop.
Dit was omstreeks 05:45 die oggend. Toe die lig groen was, het albei weggetrek en Cor het versnel om by ‘n stadigbewegende vragmotor verby te gaan. Die Ford het ook versnel en in die oomblikke wat daarna sou volg het die Ford na sy voertuig toe beweeg en aanhoudend versnel wanneer hy versnel het. Kort daarna het Cor klapgeluide teen sy motordeur gehoor. Aanvanklik het hy gedink dat dit moontlik ‘n opskietklip was wat sy voertuig getref het, maar die Ford se bestuurder was heeltyd by hom en hy het ‘n tweede klapgeluid gehoor. Toe die voertuie op ‘n stadium langs mekaar was en Cor in die rigting van die Ford kyk, het hy in die loop van ‘n pistool vasgekyk. Die Ford se bestuurder het daarna weggejaag.

Cor het toe hy in Johannesburg stilhou, gesien dat daar inderdaad op sy voertuig geskiet is, en dat een van die koeëls hom rakelings gemis het toe dit in sy motordeur aan die bestuurskant in is. Die merk van die tweede koeël is waarskynlik ‘n opslagkoeël toe die motoris ‘n skoot na die pad geskiet het. Cor het die saak by die polisie aangemeld. ‘n Klag van poging tot moord word ondersoek.




