Verdwaalde bees stamp sangeres tot in die hospitaal
Sy het gesig eerste op die sypaadjie beland en met 'n bloeiende neus en 'n mond vol modder probeer opstaan, maar dadelik besef dat sy 'n slegte besering aan haar maag en linkervoet opgedoen het.
Me. Bianca Pretorius, ‘n sangeres van die Vaaldriehoek, sê sy het die oggend ‘n hengse geraas gehoor en deur haar venster gesien dat vier honde ‘n bees deur Ameshofstraat jaag.
“Die honde het die vreesbevange, bulkende bees aan haar bene gebyt en haar aan die gesig beetgekry. Ek is ‘n groot diereliefhebber en is dadelik uit om die honde van haar af te probeer wegkry. Die bees het seker nie verstaan dat ek haar wou help nie en die volgende oomblik stamp sy my dat ek doer trek,” sê Bianca.
Sy het gesig eerste op die sypaadjie beland en met ‘n bloeiende neus en ‘n mond vol modder probeer opstaan, maar dadelik besef dat sy ‘n slegte besering aan haar maag en linkervoet opgedoen het.
Inwoners van die straat wat die petalje met hul selfone afgeneem het, kon sien hier was groot probleme en het dadelik die polisie en AfriForum se hulp ontbied. Van die mans het die beangste vers tussen die huise probeer aanjaag na ‘n veiliger terrein. In die proses is een van AfriForum se lede ook onderstebo gehardloop maar gelukkig nie ernstig beseer nie. Die vers is in ‘n nabygeleë veld aangekeer, waar sy rustiger kon raak totdat haar veewagters en die eienaar, ‘n mnr. Olwethu, opgedaag het.
Die dier het blykbaar die oggend uitgebreek terwyl die boer se werkers in ‘n nabygeleë township besig was om ‘n trop beeste se vitamieninspuitings toe te dien. Die vers het aanhou draf en uiteindelik in die netjiese woongebied aan die ooste van Vanderbijlpark beland. Nog beeste is later die oggend deur veewagters na die woonbuurt gebring om die verdwaalde vers as deel van die trop huis toe te lei.
Bianca is intussen hospitaal toe geneem, waar met ‘n sonar-ondersoek vasgestel is dat sy ‘n slegte kneuswond aan haar buik en ‘n besering aan haar blaas opgedoen het. X-strale van haar linkervoet het getoon dat geen bene gebreek is nie, maar al die ligamente in haar voet en enkel is geskeur. Sy kan nog nie op die voet trap nie en het steeds ‘n groot, donkerpers kneuswond oor haar hele buik.
Dié 32-jarige sangeres tree sedert haar kinderjare gereeld by geleenthede op en het ‘n week gelede haar enkelsnit, “Kan ek jou vashou”, nasionaal uitgereik. Sy het verlede jaar die Afro-Indie Awards sowel as die SA Country Awards se toekennings as beste nuweling ontvang en is vanjaar weer genomineer. Sy hoop dat sy op 4 April sal kan loop om die Afri-Indie-toekenningsaand by te woon. “Ek is glad nie kwaad vir die bees of vir haar eienaar nie. Dit was my eie fout om betrokke te raak,” sê Bianca.





https://vaalweekblad.com/157346/verdwaalde-bees-stamp-sangeres-tot-in-hospitaal/?fbclid=IwAR2UV5a4_t192Ek5-X0ALEym2RRvoMOu9IZyyxrbolu7q1Nr9V3-LCvz-wY



