My werk as hoefsmid – Parysenaar vertel
Deesdae reis hy tot sover as die Noord-Kaap en Toska vir van sy kliënte.

Hy ry by die 5 000 km in ‘n maand. Werk in son, wind en reën. Selfs die stof en vlieë wat deel kan wees van die werksomstandighede van ‘n hoefsmid, pla nie vir Coenraad Nolte ‘n plaaslike hoefsmid wat oorspronlik van Warrenton kom.
Hy en sy gesin het drie jaar gelede Parys hul tuiste gemaak. Vir hom is sy werk ‘n absolute passie, hoor jy as jy met dié Parysenaar gesels.
Na die dag se werk vertel hy hoe hy na skool Perdewetenskap in Pretoria studeer het, tot hy op ‘n dag in sy tweedejaar besef het – hoefsmid is wat hy wil wees. Sy belangstelling is geprikkel met wat hy geleer het van hoefbeslaning in een van sy studievakke. Hy het daar en dan besluit om sy studies te laat vaar, en aan die hand van ervare hoefsmid Greg Balmer te gaan leer.
Coenraad vertel dat die enigste plek waar jy die vaardigheid in Suid-Afrika kan leer, is by iemand wat reeds in die bedryf is.
Toe hy destyds die kuns bemeester het, het hy vir sowat vier jaar vir Greg gewerk, voordat hy besluit het om sy eie onderneming te begin.
Deesdae reis hy tot sover as die Noord-Kaap en Toska vir van sy kliënte. Daar is baie potensiaal in die bedryf, sê Coenraad, maar jy moet bereid wees om fisies hard te werk ongeag van weersomstandighede omdat jy meestal buite werk. Goeie
mensehoudings is eweneens belangrik as jy dit wil maak in die bedryf, en natuurlik ‘n liefde vir perde.
Goeie tydsbestuur, veral as jy jou eie onderneming het, is noodsaaklik want baie tyd gaan verlore terwyl jy op die pad is tussen kliënte. Jy moet jou roetes en dae fyn beplan, is sy raad. Perde kan moeilik wees, en sê hy dat daar dikwels spottenderwys
gesê word dat die weer in perde se sterte is. Hy vertel van die kere wat hy al ‘n skop of twee gekry het terwyl hy ‘n perd beslaan het, maar die veiligheidsrisiko is deel van die beroep, “Jy moet sorg dat jy nie mak raak en onkant gevang word
wanneer jy met ‘n perd werk.”

Wanneer sal ‘n perd beslaan word?
Een van die hoofredes waarom ‘n perd beslaan word, is wanneer die hoewe nie vinnig genoeg groei vir die tempo waarteen dit verweer nie.
Dan is daar ook perde wat baie oefen of uithouritte doen, of op rowwe terrein beweeg, wat beslaan word.
Laastens kan hoefysters help met korreksies byvoorbeeld wanneer die hoewe seer of in ‘n slegte toestand is, of die bene krom is (corrective shoeing). Selfs jong vulletjies van ‘n maand oud kan beslaan word.
Perde wat beslaan is, sal elke 5-6 weke nuwe hoefysters kry, en is daar verskillende tipes en groottes



