Dominee sterf net ‘n week na sy verjaardag
Ons innige en opregte medelye met die familie wie 'n groot steunpilaar verloor het.
Ds. Sarel Church, geliefde predikant van Parys, het Woensdagmiddag 11 Januarie sy lang stryd teen leukemia verloor. Sy dood volg net ‘n week nadat hy sy 83ste verjaardag gevier het.
Ds. Church was van 1978-1988 leraar van die NG gemeente Parys-Oos, en het ook afgelos as leraar by die NG Moedergemeente.
Naas Parys het sy loopbaan as predikant hom gelei na gemeentes in Potchefstroom, Odendaalsrus, Wesselsbron en Kroonstad.
Ds. Church was ‘n boorling van die Vrystaat wat in Koppies gebore is, en op Exelcior grootgeword het. Hy het sy teologiese studie in Bloemfontein begin en in Stellenbosch voltooi.
Sy vrou, Esmé is in 1999 ook aan Leukemia oorlede. Daarna het liefde weer oor sy pad gekom, en trou hy met Petro wat aan sy sy was tot sy dood.

Ds. Sarel was sy lewe lank lief vir stap, en ook ‘n kranige gholf- en tennisspeler.
Hoewel dit na sy kankerdiagnose en behandeling aanvanklik beter gegaan het, was hy die afgelope nege maande baie siek.
Hy sal in liefdevolle herinnering onthou word vir die nederige en opregte mens wat hy was wat vir almal lief was.
Die begrafnisdiens sal gehou word Dinsdag 16 Januarie om 12:00 vanuit die NG Moedergemeente.
Ds. Church word oorleef deur sy vrou, Petro, kinders Marian Roets, Annelize Mostert en Sarel Church, asook Zannae Vlok en Ernest Malan, en sy vyf kleinkinders.



