Vreugdevure brand hoog vir Hoërskool Parys se matrikulante
Baie geluk aan al ons matrikulante met die prestasies wat behaal is.
Hoërskool Parys se matriekklas van 2023 het rede om fees te vier. Die lang wag was uiteindelik vanoggend, Vrydag 19 Januarie, verby, toe uitslae van die 2023-matriekeksamen vrygestel is.

Kyla Coetzee wat ook die skool se Dux-leerder vir 2023 was, het geskitter met sewe vakonderskeidings. Sy is ook genooi na die departement van onderwys se erkenningsfunksie vir die Vrystaat se top 50 matrikulante.
Kyla gaan vanjaar medies by Wits studeer. Haar raad aan vanjaar se matrikulante is om soveel moontlik ou vraestelle deur te werk. “Dit is ‘n goeie manier om jou selfvertroue te bou vir die eindeksamen. Jy kan ook dele van die leerwerk identifiseer waaraan jy nog moet werk. Soms leer jy ook iets heeltemal nuut hieruit,” gesels sy.
Antjie Koekemoer spog met 8 vakonderskeidings en sal vanjaar begin met haar BA-graad in kunsgeskiedenis aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus. Haar raad is dat matrikulante beslis moet seker maak dat hulle fokus in die klas.

Mené Fourie en Martiza Nel het elk sewe A’s ingeryg. Mené gaan vanjaar medies studeer, en Maritza het haar oog op ‘n kwalifikasie in inligtingstegnologie.

Megan Daniel het geskitter met ses vakonderskeidings en gaan onderwys studeer by die Pukke.
Baie geluk ook aan Elandré Olwage, Wuhan Maree en Lize Potgieter wat elk spog met 4 A’s, en Danel de Bruyn, Hanné Hayes en Corzel Uyssel wat elkeen 3 A’s het.
Die skool het ‘n totaal van 76 vakonderskeidings, en ‘n 91,7% slaagsyfer vir sy 2023 matriekklas.
Die matrieks van 2023 was dit almal eens dat harde werk en om vooruit te werk, beslis vrugte af werp. “Volg jou eie studiemetode, want jy weet wat werk vir jou,” sê hulle.




