Local newsNews

Administrasie- wat sal dit vir Ngwathe behels

Provinsiale intervensie lei dikwels tot 'n leierskapvakuum wat meestal juis die teenoorgestelde uitwerking van intervensies het, en inwoners eindelik in hagliker omstandighede leef nadat miljoene spandeer is aan mislukte intervensies.

Nie een van die Vrystaatse munisipaliteite wat in die verlede onder provinsiale administrasie geplaas was, kon nog daarin slaag om beter te presteer nie. Trouens – van die munisipaliteite het swakker gevaar na administrasie as voorheen. Hiervan is spesifiek melding gemaak in die ouditeur-generaal se verslag vir 2021/22.

Die Bloemfonteinse Hoë Hof moet op 20 Junie ‘n beslissing gee of hy ‘n aanbeveling gaan maak vir die Vrystaatse provinsiale regering om die sukkelende Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas nadat die burgerregte organisasie, AfriForum die hof met ‘n aansoek genader het.

AfriForum voer aan dat Ngwathe se optrede in stryd is met sy grondwetlike, wetgewende en regulatoriese verpligtinge teenoor inwoners van dié munisipaliteit, wat gebuk gaan onder voortslepende en ernstige diensleweringsprobleme.Gazette het met Michal Groenewald, die VF Plus se woordvoerder vir Cogta, en Armand Cloete, die VF Plus se Lid van die Portefeuljekomitee vir samewerkende regering in die Vrystaatse Wetgewer gesels oor wat administrasie van munisipaliteite behels.

Wanneer word ‘n munisipaliteit onder administrasie geplaas?
Artikel 139 van die grondwet asook die Municipal Finance Management Act (MFMA) maak voorsiening vir provinsiale intervensie by munisipaliteite wanneer wetlike en uitvoerende verantwoordelikhede nie nagekom word nie. Dit sluit ook munisipaliteite se wetlike verpligting in terme van die grondwet en ander wetgewing ten opsigte van basiese dienslewering in.

Provinsiale intervensie kan volgens bepalings van Artikel 139 op verskeie maniere toegepas word. Dit sluit in finansieel, finansieel en uitvoerend, totale intervensie of dan ontbinding van ‘n munisipaliteit. Dit kan dus in sekere intervensies gebeur dat ‘n munisipale raad geen magte meer het nie.

In ‘n verkiesingsjaar is dit egter nie die ideaal om munisipaliteite te ontbind nie, omdat dit politieke onstabiliteit skep, sê Groenewald. Die aansoek vir Ngwathe is vir finansiële ingryping.

Wat beteken administrasie vir Ngwathe sou die aansoek slaag?
Sou ‘n aansoek vir administrasie in die hof slaag, gee die hof opdrag aan die LUR van die provinsie om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Die provinsie sekondeer dan ‘n administrateur vir die munisipaliteit.

So ‘n administrateur neem basies die rol van ‘n munisipale bestuurder oor. Die aanstel van ‘n administrateur verander niks aan die amptenary van die munisipaliteit wat steeds verantwoordelik is vir dienslewering en die uitvoer van besluite. Ongelukkig is dit juis by die amptenary en swak besluitneming waar munisipaliteite se probleme dikwels lê.

By munisipaliteite wat onder administrasie is, is dit die administrateur wat besluite neem in oorleg met die provinsiale raad, maar soos in die geval van munisipale bestuurders wat die afgelope jaar in Ngwathe waargeneem het, het ‘n administrateur wat gesekondeer word deur die provinsie geen kennis van die dorp waar hy geplaas word nie.

Amptenary moet ook aan die administrateur verslag doen. In sekere gevalle van intervensie behou die raad wel sy rol. Amptenary kan egter geen uitvoering aan besluite gee sonder die goedkeuring van die administrateur nie, en het die raad ook nie insae in besluite of terugvoer van die provinsie aan die administrateur nie, sê Groenewald.

In wese is munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word ‘n sogenaamde “top to bottom approach” – ‘n nuwe regering, nuwe werkswyse en prestasie beheer, maar steeds dieselfde amptenare wat geen waarborg vir beter dienslewering of beter munisipale bestuur bied nie.

Hoe raak die nasionale en provinsiale verkiesing die bestuur van ‘n plaaslike munisipaliteit?
Jou stem in vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing is van uiterste belang omdat plaaslike regering soos by munisipaliteite ook geraak word deur die besluite van die regerende party.

‘n Nuwe regering of selfs koalisie-regerings sal na die verkiesing dadelik ‘n effek op die bestuur van munisipaliteite hê, sê Groenewald. Sou die provinsiale regering dus na die verkiesing verander, kan so ‘n regering besluit om in te gryp in die bestuur van munisipaliteite deur byvoorbeeld forensiese en professionele ondersoeke na korrupsie en wanbestuur in wanpresterende munisipaliteite.

Die uitslag van die verkiesing sal ook ‘n direkte invloed hê op munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word, omdat dit ‘n nasionale en provinsiale verkiesing is.

Tans is daar vier munisipaliteite in die Vrystaat onder administrasie, naamlik die Mangaung Metro (Bloemfontein, Botshabelo, Dewetsdorp, Mangaung, Soutpan, ThabaNchu, Van Stadensrus en Wepener), Tokologo (Dealesville, Hertzogville, Malebogo en Seretse), Kopanong (Bethulie, Edenburg, Fauresmith, Gariep Dam, Jagersfontein, Philippolis, Redersburg, Springfontein, Trompsburg en Waterkloof) en Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling), het Cloete bevestig.

Hy sê daar is begrip dat daar ‘n behoefte vir een of ander ingryping in mislukte munisipaliteite bestaan, ook in ‘n munisipaliteit soos Ngwathe wat nie eens in die basiese behoeftes van sy inwoners kan voorsien nie, en inwoners moedeloos het.

Cloete voeg by dat Artikel 139-intervensies die afgelope paar jaar in ander munisipaliteite soos Masilonyana en Maluti-A-Phofung, geen verbetering getoon het nie. In dié munisipaliteite gaan inwoners vandag gebuk onder swakker dienste ten spyte van ingrypings.

“Die admnistrasiespanne wat die provinsiale en nasionale regering na munisipaliteite ontplooi, beskik nie oor die nodige kundigheid om munisipaliteite te verbeter nie. Munisipale rade onder die ANC het ook nie die politieke wil om omkeerstrategieë effektief te implementeer nie. Boonop word amptenare nie aanspreeklik gehou vir hul mislukkings nie,” sê Cloete.

Beide Groenewald en Cloete is dit eens dat dié faktore lei tot ‘n leierskapvakuum wat meestal juis die teenoorgestelde uitwerking van intervensies het, en inwoners eindelik in hagliker omstandighede leef nadat miljoene spandeer is aan mislukte intervensies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button