Meyerton-eienaars spog met kampioen boerboel
Drie internasionale beoordelaars is vanjaar vir die eerste keer gebruik vir die skou wat die naweek by die AfriDome in Parys gehou is
Die 19 maande oue Pinnacle Sloet is die afgelope naweek met ‘n keuringspersentasie van 93,7% by die Internasionale Boer-boelskou in Parys as Hond van die Jaar gekroon.
Pinnacle Sloet is geteel deur André Bruyns van Pinnacle Boerboels. Sy trotse eienaars is André en Attie Jansen van Vuuren van Kingston Boerboels in Meyerton.



Drie internasionale beoordelaars is vanjaar vir die eerste keer gebruik vir die skou wat die naweek by die AfriDome in Parys gehou is en waarvoor 270 boerboele ingeskryf is. Saam met die skou is ‘n sogenaamde keurders ‘eye alignment’ werkswinkel aangebied, en is twee keuders van Amerika en drie van Europa vir die werkswinkel ingevlieg.
Daar was Dinsdagaand groot dankbaarheid nadat een van die deelnemers, Nala, wat ‘n vierde plek in haar kategorie behaal het, veilig en ongedeerd gevind is
Dit nadat sy op ‘n ongelukstoneel tussen Boshoff en Hertzogville weggeraak het. Nala was een van ses honde wat deur Nico Okkers, ‘n teler van Eminent Boerboel in die Wes-Kaap, vir die internasionale skou ingeskryf is.
Na die skou, op pad huis toe, het die waentjie waarin die honde vervoer is, se raam op ‘n grondpad tussen Hoopstad en Boshoff ingegee. Die waentjie het die bakkie getref en die deure van die waentjie is met die impak van die botsing oopgeruk. Vyf van die honde is gekry, maar Nala was egter soek. Iemand het haar gekry en versorg totdat sy Woensdag met haar eienaars herenig is



