Local newsNews

So manipuleer bedrieërs jou om persoonlike inligting te gee

Bedrieërs wend hulle tot ander metodes omdat die risiko-kontroles wat banke gebruik, ongemagtigde toegang tot rekeninge verhoed.

 

Die bankwese het bewus geraak van ’n toename in kliënte wat deur bedrieërs geflous is wat hulle as bankpersoneel, belastingbeamptes of beleggingsmaatskappye voordoen. In reaksie hierop het Standard Bank nou in nuwe tegnologie belê om kwesbare verbruikers te waarsku en te beskerm.

Data van die Suid-Afrikaanse Bank-risikosentrum (Sabric) toon dat ‘vishing’ (waar swendelaars telefoonoproepe en sosiale-ingenieursvaardighede inspan om slagoffers te manipuleer om vertroulike inligting te onthul) die grootste bydraer tot toepassings-, digitale bankwese- en kaartverwante bedrog geword het.

Anders as met ‘phishing’-bedrog wat mense mislei om op skakels in tekste en e-posse te klik, kul ‘vishing’-oproepe mense om sensitiewe bankinligting te deel of om aksies uit te voer wat die sekuriteit van hulle bankrekeninge kompromitteer.

Hoe die bedrogspul werk

Bedrieërs teiken ouer mense wat aftrede nader of wat onlangs hulle kontantuitbetalings ontvang het. Hulle hou beleggingsgeleenthede wat hoë opbrengste bied voor en oorreed slagoffers met vals beloftes om fondse na fiktiewe beleggingsrekeninge oor te plaas. Bedrieërs gebruik ook ’n ander taktiek om paniek te saai deur verkeerdelik te beweer dat die slagoffer se bankrekening in gevaar is en por hulle aan om hulle geld na ’n ander rekening vir ‘veilige bewaring’ oor te plaas.

Dr Belinda Rathogwa, Standard Bank se Hoof van Digitale en e-Handel, moedig almal aan om waaksaam te bly sodat hulle nie deur sulke bedrog geflous word nie. “Die bank sal jou nooit bel en vra om jou geld oor te plaas na ’n rekening waarvan jy nie weet nie. As jy jou swaar verdiende geld gaan belê, verifieer die besonderhede van die beleggingsmaatskappy waarmee jy te make het. Maak seker dat hulle by die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) geregistreer is,” sê Rathogwa.

Sy voeg by: “Hierdie individue moedig slagoffers aan om nie besonderhede oor die bedrieglike transaksie met hulle banke of geliefdes te deel nie, wat dit moeilik maak om die bedrog vroeg op te spoor. Hierdie sosiale-ingenieurstaktiek laat min opsies vir verbruikers om al hulle verlore fondse terug te kry en die meeste kry niks van hulle geld terug nie, selfs met die bank se hulp.”

Rathogwa gaan voort om te verduidelik dat bedrieërs nou ander metodes gebruik omdat risiko-kontroles wat banke gebruik, ongemagtigde toegang tot rekeninge verhoed.

Hoe om jou teen bedrog te beskerm

  • Wees bedag op ongevraagde oproepe, e-posse of boodskappe wat persoonlike inligting aanvra.
  • Indien jy ’n oproep van iemand kry wat beweer dat hulle van jou bank se bedrogafdeling is, onthou dat die bank jou nooit sal vra om jou persoonlike inligting oor die foon te deel nie. Indien die oproep verdag klink, beëindig die oproep en bel jou bank se bedroglyn.
  • Moet nooit jou eenmalige PIN (OTP) met enigiemand deel nie. Jou bank sal nooit vir jou digitale bankbesonderhede oor die foon vra nie, insluitende OTPs, wagwoorde of PINs.
  • Vermy dit om openbare WiFi-netwerke te gebruik om banksake te doen. Standard Bank-kliënte kan die selfoonbanktoepassing gebruik, selfs al het hulle nie selfoondata nie.
  • Gebruik jou vingerafdruk of gesigsherkenning om jou toestel te beveilig en op jou banktoepassing aan te teken vir bykomende sekuriteit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button