Ondenkbare verwoesting van ‘n litiumbrand
As eienaar van ‘n eiendom moet jy seker maak huurders is ook bewus van die gevare en vereistes van hierdie stelsels om repudiëring van ‘n eis te voorkom.
Die verwoestende brand by sy hidroliese fabriek was die mees traumatiese ding wat Eugene, uitvoerende hoof van Axiom Hydraulics, nog ervaar het. ‘n Dag wat sy lewe verander het.
Dit was 16 Junie 2023 – ‘n openbare vakansiedag. Eugene en sy gesin was op pad na ‘n winkelsentrum om sy vrou se verjaardag te vier, toe hy die alarmkennisgewing ontvang het. Op die CCTV-beeldmateriaal op sy foon kon hy die rook en vlamme deur die werkswinkelvenster sien.
Hy het nooddienste in kennis gestel en self ook na die fabriek gehaas, maar die vlamme was toe reeds so erg dat daar nie toegang
tot enige deel van die gebou gekry kon word nie. Magteloos moes hy toekyk hoe dit waarvoor hy sy lewe lank gewerk het en wat ‘n inkomste aan 40 gesinne voorsien het, in vlamme opgaan.
Hy het gedink sy fabriek het ‘n beperkte brandrisiko, en dat daar nie iets was wat kon verkeerd loop nie, maar dit was eers na die brand wat hy die waarde van goeie versekering besef het.
Die brand
Die fabriek het ‘n sonkragstelsel gehad, gekoppel aan ‘n stel litium batterye. So kon daar selfs tydens beurtkrag gewerk word.
Na die brand het die forensiese ondersoek bevind dat een van die litium batterye onklaar geraak het, waarskynlik as gevolg van
‘n probleem met sy ingeboude batterybestuurstelsel. Gevolglik het van die vonke op ‘n houtrak naby die battery geval, en het die rakke en ander batterye begin brand.
Die brandweer was vinnig daar maar kon nie die brand geblus kry nie, omdat litiumbatterye ‘n unieke chemiese samestelling het wat veroorsaak dat water- en poeierbrandbestrydingstoerusting nie effektief is om ‘n litiumbrand te blus nie. Gelukkig vir Axiom
kon hulle met ‘n paar masjiene in ‘n aangrensende deel van die gebou wat nie deur die brand beskadig is nie, voortgaan om
die besigheid te bedryf, en was binne ses maande weer terug op volle bedryfskapasiteit in ‘n nuwe gebou.
Op aanbeveling van Eugene se versekering is die fabriek se batterystelsel na ‘n aparte buitegebou geskuif, en gekyk na meer gespesialiseerde temperatuurmonitering en ‘n outoonderdrukkingstelsel wat onlangs in die land bekend gestel is.
Wat kan die oorsaak wees dat litiumbatterye brand?
CIA Building Insurance Specialist noem dat sedert Junie verlede jaar het slegs vier litiumbattery brande skade van meer as R45m tot gevolg gehad.
Verkeerde installasies is dikwels ‘n groot kopseer, en juis daarom is dit belangrik dat ‘n gekwalifiseerde elektrisiën in ooreenstemming met alle toepaslike wetgewing en die vervaardiger se riglyne en spesifikasies die installasie doen.
Maak seker jy kry ‘n geldige elektriese sertifikaat van voldoening en ‘n toetsverslag vir die stelsel.
Nog ‘n vuursneller is termiese weghol in hierdie batterye. ‘n Termiese weghol is ‘n kettingreaksie binne ‘n battery wat lei tot vinnige temperatuur- en drukverhoging.
Oorsake hiervan kan wees as gevolg van:
a) Interne kortsluitings weens fisiese skade of vervaardigingsdefekte.
b) Oorlaai en ontlading as die aanbevole laai- of ontlaaitempo oorskry word.
c) Eksterne hittebronne wanneer die batterye blootgestel sou word aan hoë omgewingstemperature of naby hittegenererende toestelle.
d) Ouderdom en slytasie oor tyd. Dit is belangrik dat daar gereeld inspeksies en instandhouding gedoen word sodat risikos betyds
opgetel kan word.
Wees ook versigtig om nie brandbare materiaal binne twee meter van enige omskakelaar of battery te stoor nie.
As eienaar van ‘n eiendom moet jy seker maak huurders is ook bewus van die gevare en vereistes van hierdie stelsels om repudiëring van ‘n eis te voorkom.

Waarom gewone brandblussers nie litiumbatterybrande sal stop nie:
• In geval van ‘n litiumbrand is gewone blussers (CO2, water en poeier) ondoeltreffend omdat dit nie die battery effektief kan afkoel
of die vlamme versmoor nie. Litiumbatterye selfoksideer (wat hul eie suurstof opwek) en brand teen uiters hoë temperature.
• Litiumbrande kan ure lank woed in ‘n gebou waarin die omskakelaar is.
Selfs in aparte geboue kan die hitte wat deur ‘n brandende litiumbattery gegenereer word aansienlike skade aan aangrensende geboue veroorsaak. Hierdie stelsels het ook die potensiaal om weer te ontvlam.
• Groter kapasiteit Litium batterye het groter risiko’s as die kleiner batterye in byvoorbeeld selfone en skootrekenaars. Omskakelaarbatterye wat vir kragopwekking gebruik word het baie meer energie en bied ‘n hoër brandlading.
• Die gasse wat Litium batterye vrystel, is nie net giftig nie, maar is ook brandbaar en kan aan die brand steek en ontplof.
Om naby die vuur te kom sonder die korrekte beskermende drag is gevaarlik en dikwels nie moontlik nie selfs met die nodige
beskerming.
Goeie raad is om waar moontlik jou stelsel eerder in ‘n aparte gebou soos ‘n motorhuis of buitegebou te installeer agter brandmure.
(Bron: CIA Bulding Insurance Specialists)



