BusinessCommunityIndustry NewsLocal newsOpinions

Ontstellende vlakke van werkloosheid dra by tot misdaad

TLU SA sê misdaad het 'n direkte verbintenis aan werkloosheid.

Transvaal Agricultural Union (TLU SA) sê die ontstellende vlakke van werkloosheid in ons land dra direk by tot die toename in misdaad.

“TLU SA het met groot kommer kennis geneem van die jongste Statistiek SA Kwartaal-Arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2024. Hierdie verslag beklemtoon weer eens die ontstellende vlakke van werkloosheid in ons land, wat direk tot die toename in misdaad bydra. Ons staan vas in die oortuiging dat werkloosheid en misdaad onafskeidbaar verbind is,” het die unie in ‘n verklaring gesê.

Sukses in enige ekonomie word gedryf deur ‘n gesonde en florerende privaatsektor. Dit beteken dat diensmaatskappye, fabrieke en landbou-instansies winsgewend moet wees om belasting te betaal en by te dra tot die nasionale ekonomie. Die staat se rol is om ‘n veilige omgewing te skep met betroubare infrastruktuur, konstante kragvoorsiening en goeie vervoergeriewe. Wanneer hierdie voorwaardes nagekom word, raak dit aantreklik vir besighede om te belê en te floreer.

Tans is die situasie egter ver van hierdie ideaal.

“Die ANC se transformasiebeleid, gekombineer met kaderontplooiing en SEB, het gelei tot aanstellings gebaseer op politieke bande en ras eerder as kundigheid. Dit het beleggersvertroue ondermyn en baie besighede het hul beleggings onttrek of na veiliger oorde verskuif. Entrepreneurs verlaat die land in soek na beter geleenthede, wat lei tot stadige ekonomiese groei en ’n afname in werksgeleenthede. Hierdie negatiewe tendens is ’n direkte gevolg van die ANC se beleid.

“Hoe bou ons ’n toekoms in sulke omstandighede? Die president kondig gereeld aan dat werkgeleenthede geskep sal word, maar die werklike fokus moet op ekonomiese groei wees. Om dit te bereik, moet die regering ophou inmeng met arbeidsregulasies en eiendomsregte wat onsekerheid skep. Die privaatsektor moet toegelaat word om in ’n vertrouenswaardige omgewing te funksioneer, waar beleggings beskerm word en nie sonder vergoeding   gaan onder die nalatenskap van die ANC se beleid. Dit sal tyd neem voordat nuwe beleide ’n merkbare verandering bring.

“Die verband tussen werkloosheid en misdaad is soos ‘n tydbom. Sosiale toelaes alleen kan werklose mense nie permanent aan die gang hou nie. Hierdie situasie is die gevolg van die regering se siek beleid.

“Die afgelope 30 jaar se beleid het die land se mense benadeel en ekonomiese geleenthede vernietig. Werkloosheid en misdaad is gewortel in die ANC se beleidsomgewing.”

TLU SA sê daar moet dringend gekyk word na arbeidswetgewing en die toepassing daarvan, insluitend die minimumloon.

“Deur die minimumloon af te skaf, kan markkragte die arbeidsmark reguleer en meer mense in diens neem. Vakbonde verteenwoordig tans net diegene wat werk het – daar is niemand wat opstaan vir die werklose mense nie.”

TLU SA dring aan op beleidsveranderinge wat werklike ekonomiese groei kan fasiliteer.

“Slegs deur hierdie benadering kan ons werkloosheid verminder en die misdaadkrisis aanpak. Ons bly verbind tot ons missie om die landbou en breër ekonomie te versterk tot voordeel van al ons mense.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button